Twee gevonnis vir Garsfontein-moorde

‘n Nagwaak vir die slagoffers ná die aanval. Foto: Yusuf Abramjee @Abramee / Twitter

Twee broers van Vosloorus, suid van Boksburg, is vandeesweek gevonnis vir die moord op twee susters tydens ʼn huisroof in Garsfontein in Pretoria in Maart 2017.

Ao. Michael Nel, woordvoerder van die polisie, het bevestig Kondie Mndalakieze en Musa Phuri is albei tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op dr. Anna Moloto (43) en haar suster, Mahlodi Moloto (39). Die twee beskuldigdes is ook 12 jaar tronkstraf opgelê vir elk van drie aanklagte van poging tot moord, nog 15 jaar tronkstraf vir huisroof en nog 22 jaar tronkstraf op verskeie aanklagte van diefstal.

“Elkeen van die beskuldigdes is dus tot 123 jaar tronkstraf gevonnis vir dié misdade. Hulle sal in Mei vanjaar ook in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn op soortgelyke aanklagte,” sê Nel.

Maroela Media het vroeër berig Albert Mafanele, destyds ʼn hoofdirekteur van die departement van toerisme, en sy gesin is op 14 Maart in hul huis in Garsfontein aangeval. Hulle is tot die volgende oggend aangehou, vasgebind en met skerp voorwerpe gesteek en gesny.

‘n Nagwaak vir die slagoffers ná die aanval. Foto: Yusuf Abramjee @Abramee / Twitter

Mndalakieze en Phuri het uiteindelik met twee televisiestelle en die een slagoffer se voertuig op die vlug geslaan. Die voertuig is later verlate in Yeoville opgespoor.

Anna, Mafanele se vrou, en haar suster Mahlodi is tydens die aanval vermoor. Mafanele, sy 30-jarige dogter en hul huiswerker is tydens die aanval ernstig beseer en moes in die hospitaal opgeneem word.

Die twee moordenaars is net ʼn paar dae later aangekeer en was sedertdien in polisieaanhouding.

Kol. Kervin Solomons, bevelvoerder van die Garsfontein-polisiestasie, het die beamptes gelukgewens wat gehelp het om die moordenaars vas te trek en die saak te ondersoek. “Dit is deur behoorlike ondersoek, vasbeslotenheid en toewyding wat hulle ʼn skuldigbevinding kon verseker,” het Solomons gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

leser ·

waars daar ‘n plek, ver van die beskawing, iewers in die see, wat sulke moordenaars kan sit en oor hul sondes dink, geen kos of water, hulle moet vir hulself sorg, belasting betalers onderhou al te veel moordenaars

Marinda ·

Hulle sal na die laaste land toe swem. Nee, die beste vir hulle is om dieselfde straf te kry wat hulle aan die slagoffers gedoen het.

Jan ·

So hulle is oor 8 jaar uit op parool. In Amerika wag jy 20 jaar in die dodesel vir jou tergstellings- inspuiting… Ons maak ‘n bespotting van die waarde van lewe.

Cherokee ·

Jy oordryf Jan. En wees gekorrigeer.. jy praat van Amerika asof dit een land, een staat is. Slegs enkele state in Amerika hef steeds die hoogste tol. Lees wat OuJongVrou jou vertel.

Oujongvrou ·

As hulle effektief 123jr gekry het, juig ek. Kom ons kyk of hulle daar gaan uitkom, selfs vir parool.

leser ·

@marinda,
tussen perth en durban is daar ‘n eiland in die indiese oseaan, 3500 km vanaf perth en 4500 km vanaf durban, ek glo hulle wat probeer swem gaan nogal moeg wees

Cherokee ·

Wat interessant is, is dat die slagoffers volgens die name swart is, en die nagwaak is deur blankes.

Ook ·

Ekt dit ook raak gesien. Wonder of die ander nasie selfde sou doen as dit andersom was… Twyfel sterk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.