Twee gevonnis vir moord op KZN-boer

Daniel Swanepoel. Foto: Verskaf.

Ayanda Mncube (21) en Sibusiso Mbatha (23) is Woensdag in die hooggeregshof gevonnis vir die moord op Daniel Swanepoel (57), ʼn boer wat in November 2017 op ʼn plaas in die Vryheid-omgewing in KwaZulu-Natal vermoor is.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê Mncube en Mbatha is elkeen tot 25 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van moord, 15 jaar vir roof en drie jaar vir ontvoering.

Die twee mans het vroeër skuld erken op al die aanklagte teen hulle.

Maroela Media het vroeër berig Swanepoel is op 4 November omstreeks 05:30 deur twee aanvallers op die plaas Eensgevonden oorval. Die aanvallers het geld en kredietkaarte van Swanepoel geëis. “Hy het volgehou hy het niks by hom nie en hulle het hom herhaaldelik met ʼn skerp voorwerp gesteek,” het Zwane gesê.

Swanepoel het op die toneel aan sy beserings beswyk.

Die verdagtes het daarna Swanepoel se vrou ingewag toe sy omstreeks 15:00 by die plaas aangekom het. Hulle het haar oorval en in ʼn motor ingedwing. “Hulle het met haar na ʼn kitsbank gery waar sy gedwing is om vir hulle geld te trek,” het Zwane gesê.

Hy het gesê die verdagtes het tot laat die aand met haar rondgery totdat sy daarin kon slaag om ʼn motoris in die omgewing se aandag te trek. Die plaaslike buurtwag is ontbied en het gehelp om een van die beskuldigdes vas te trek, terwyl die tweede beskuldigde aanvanklik daarin kon slaag om te ontsnap.

“Die tweede verdagte is die volgende dag deur die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad vasgetrek. Albei is van al drie aanklagte aangekla.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het vroeër aan Maroela Media gesê Swanepoel is ure lank gemartel. “Toe sy vrou ongeveer ses uur later op die plaas aankom waar hulle haar ingewag het, het sy nog nie geweet haar man is dood nie,” het hy gesê.

Genl.maj. Bheki Langa, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die vonnisse verwelkom. “Ons hoop die vonnis sal berusting bring vir die familie wat hul geliefde verloor het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.