Twee gevonnis vir moord op Piet Botha

Pieter (Piet) Botha (Foto verskaf)

Twee jong mans is Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis vir die moord op Piet Botha (46).

Botha, ʼn Metrorail-treindrywer, is op 11 Julie 2016 by die Netreg-stasie in die Wes-Kaap beroof en vermoor. Hy is twee keer geskiet.

Regter Mark Sher het Jathiem Hamid (18) en Dorian Diedericks (19) tot effektief 25 jaar tronkstraf elk gevonnis.

Botha se weduwee, Tania, meen geregtigheid het geskied. “Niks sal my man en die pa van my twee kinders terugbring nie, maar die vonnis sal die moordenaars verhoed om dieselfde aan ʼn ander gesin te doen. Niemand verdien waardeur ons is nie aangesien die broodwinner van ons gesin vermoor is terwyl hy aan diens was.”

Steve Harris, sekretaris van die vakbond Untu, het die vonnisse verwelkom en gesê dit stuur ʼn duidelike boodskap aan misdadigers.

Jathiem Hamid en Dorian Diedericks is in Mei skuldig bevind aan die moord op Botha. Hulle is ook skuldig bevind op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ʼn Derde beskuldigde in die saak, ʼn minderjarige wat nie geïdentifiseer mag word nie, is in Mei op alle aanklagte vrygespreek. Die vierde beskuldigde, Cedric Andrews, is net op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie skuldig bevind. Hy is Woensdag tot effektief agt jaar tronkstraf gevonnis.

Hamid, Diedericks en die minderjarige is almal lede van die Young Dixie Boys-bende. Andrews is ʼn vriend van die drie en hulle het gereeld sy huis besoek.

Die hof het bevind Botha het twee sakke by hom gehad wat die beskuldigdes by hom gesteel het. Hamid het ʼn vuurwapen by hom gehad. Nadat Botha geskiet is, het die beskuldigdes van die toneel gevlug met sy besittings, asook die vuurwapen na Andrews se huis geneem en dit daar weggesteek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Burt ·

Wel gedaan aan die polisie!! lyk my ‘n mens se lewe is niks meer werd vir moordenaars nie. Waarom vat hulle nie net wat hulle wil nie? nou moet kinders sonder hul pappa grootword? Al wat hierdie sinnelose moorde in ons land gaan stopsit, is die doodstraf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.