Twee gevonnis vir moord op Sedgefield-bejaarde

Peter Henson se liggaam is in 2019 in sy huis ontdek (Foto: Verskaf)

Die 76-jarige Peter Henson van Sedgefield in die Wes-Kaap se moordenaars gaan lank agter tralies deurbring.

Henri Molligan en John McCombi is Donderdag – presies twee jaar ná die moord – in die rondgaande hof op Knysna gevonnis nadat hulle vroeër vandeesweek op aanklag van moord en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is.

Molligan is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op Henson en ’n verdere 15 jaar tronkstraf opgelê vir die aanklag van roof met verswarende omstandighede.

McCombi is op sy beurt tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord en ’n verdere tien jaar vir die aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê van die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

McCombi is dus tot effektief 30 jaar tronkstraf gevonnis.

Sers. Xolani Petros, die ondersoekbeampte in die saak, en adv. Evadne Kortje, die staatsaanklaer. (Foto: SAPD)

McCombi en Molligan is wel vroeër vandeesweek vrygespreek op ʼn klag van huisbraak met die doel om te roof en te moor.

Henson se liggaam is op 16 September 2019 in sy huis in Paul Kruger-straat in Sedgefield aangetref.

ʼn Lid van die gemeenskap het die betrokke aand Henson se hond alleen in die straat sien rondloop. Hy het onraad vermoed en na Henson se huis gegaan om ondersoek in te stel. Dit is toe dat hy Henson se liggaam op die vloer aangetref het.

Henson se hande was agter sy rug met ʼn lint vasgebind en ʼn lap was in sy mond gedruk.

Maroela Media het vroeër berig McCombi en Molligan het in die hof getuig dat hulle toegang tot Henson se huis verkry en hom oorval, gewurg en vasgebind het. Hulle is daarna met onder meer ʼn DStv-dekodeerder, ʼn mes en ʼn persoonlike dagboek van Henson vort.

Ntabazalila sê die NVG verwelkom die vonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Hulle moes beide 10 x lewenslank gekry het. na ‘n jaar loop hul weer op straat en dan vind dieselfde plaas. Doodstraf sal teruggebring moet word om hiredie bosekringloop te kniehalter.

Blomme ·

Ai kan die doodstraf maar nie weer inkom.. Die sinnelose moorde raak dan nou ń gewoonte. Mens is dan nou nie eens in jou eie huis veilig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.