Twee gevonnis vir nagklub-moord

Carl Schoombie. Foto: Facebook

Brent Henry (40) en Juane Jacobs (37) is Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis vir die moord op Carl Schoombie (27).

Regter Robert Henney het Henry en Jacobs tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Lee Schoombie, Carl se broer, het die vonnis in ʼn inskrywing op sy Facebook-profiel verwelkom en gesê geregtigheid het geskied. “Ons kan nie verduidelik hoe dankbaar ons is vir die liefde en ondersteuning wat ons oor die afgelope 18 maande gekry het nie,” het Lee gesê.

Maroela Media het vroeër berig Carl Schoombie het op 21 November 2015 saam met vriende by ʼn nagklub in Claremont in Kaapstad gekuier toe ʼn geveg uitgebreek het. Hy was nie daarby betrokke nie en het die klub in ʼn taxi verlaat.

Die taxi is in die rigting van Rondebosch deur ʼn ander voertuig, met twee mans daarin, van die pad af gedruk. Die twee het Schoombie en sy vriende daarvan beskuldig dat hulle die geveg begin het. Schoombie en sy vriende het herhaaldelik gesê hulle was nie betrokke nie, maar is nogtans erg aangerand.

Schoombie is met ernstige kopbeserings in ʼn hospitaal opgeneem waar hy ʼn paar dae later dood is.

Henry is kort ná die moord in hegtenis geneem, terwyl Jacobs in Februarie 2016 in Johannesburg in hegtenis geneem is. Henry is destyds op borgtog van R1 000 vrygelaat, maar Jacobs het sy borgtogaansoek laat vaar.

Nadat die twee mans in Maart vanjaar aan die moord skuldig bevind is, is Henry se borgtog teruggetrek en is hy weer in hegtenis geneem.

Lees alle vorige berigte oor Carl Schoombie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dellaq ·

Verheug om dit te hoor! By tye gewonder of die regstelsel hierdie familie in die steek sou laat. Dit bring nie julle broer & seun terug nie, maar die wete dat hierdie lafaards en moordenaars gaan sit, is iets om te vier. Nog ‘n goeie jong mens wat ‘n positiewe bydrae kon lewer,uit die samelewing weggeruk deur siek honde. Sterkte vir die familie vir hulle swaar pad vorentoe.

Gypsey2 ·

verskoon my maar honde het meer brein as die 2 wat ‘n onskuldige man se lewe geneem het

Een vraag ·

Wat soek ‘n 40 jarige en 37 jarige in ‘n nagklub tussen jong mense? Is hulle nie bietjie oud vir jol nie?

Een antwoord ·

Hang natuurlik af van hoe oud jy is Een vraag. Mens kan seker in plekkr soos dit kuier al is jy 50.

Nog 'n vraag ·

Het hierdie ou getroude mans wat “jonk van gees” is dan nie huise nie? Wat pla hulle?

Anesta ·

Vra jy! Ludi Vink se moordenaar was 52 jaar oud! Ou mans wat dink hulle is nog jonk en tussen die jongklomp wil mileste maak hou ‘n gevaar vir die samelewing in!

Ada ·

Dankie tog hulle gaan tronk toe – Moordenaars!!!
Hoop hulle vrot daar.

Langoor ·

Op die ou einde álles so, so onnodige – vir alle partye!!

ice ·

Alweer drank – daar is altyd drank betrokke, dan is mense mos baie slim en sterk. Onnosel – baie bly hulle sit

Pieter ·

Dan is die een ou nogal 40 – mens verwag dit van laaities in hulle vroeë 20’s. Nee wag, mens verwag nie dat enige ordentlike opgevoede mens dit doen nie . . .

Tanya ·

Mens sou dink dat die omies teen daardie tyd in die bed sou wees. Ek is verheug oor die vonnis.

Jd ·

Ongelukkig is lewenslank in ons regstelsel nie regtig dit nie. Hulle sal na 15 jaar kan aansoek doen vir parool. Lewenslank moet juis dit wees en miskien na 30 jaar kan jy aansoek doen vir parool

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.