Twee gevonnis wat jagluiperdwelpies wil smous

Die welpies is na ‘n rehabilitasiesentrum vir wilde diere geneem. (Foto: SA Polisie)

Twee mans is die afgelope week in die Hartswater-landdroshof skuldig bevind aan die besit van en handel in ʼn beskermde spesie.

Die Valke se eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad het Ockert du Toit (45) en Stefan de Villiers (52) al in Augustus 2015 in hegtenis geneem, ná die polisie ʼn wenk ontvang het dat drie jagluiperdwelpies in die Hartswater-omgewing in die Noord-Kaap te koop aangebied word, het Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke in die Noord-Kaap, gesê.

Die polisie het kort daarna toegeslaan en twee welpies is op ʼn kleinhoewe by Hartswater gevind. Ná ondervraging het die twee mans gesê die derde welpie word op ʼn plaas by Vorstershoop aangehou, het Mnisi gesê.

Die welpie is later in ʼn buitegebou op daardie perseel gevind. Die polisie het beslag gelê op ʼn .22-geweer en ʼn .303-geweer.

“Du Toit is gevonnis tot ʼn boete van R5 000 of 12 maande tronkstraf, terwyl De Villiers gevonnis is tot ʼn boete van R10 000 of twee jaar tronkstraf,” het Mnisi gesê.

Die welpies is ná die klopjag na ʼn rehabilitasiesentrum vir wilde diere in Bloemfontein geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Belinda Erasmus ·

Hoe presies is die vonnisse nou n afskrikmiddel sodat hulle nie weer probeer handel dryf met wilde diere nie? Ons liewe regstelsel bevorder die handel in wildlewe met sulke lawwe vonnisse!

Abe ·

Alida,
Stem saam. Hopeloos te lig gestraf vir handel in beskermde en bedreigde spesies.

Tammy ·

Ek is bitter ongelukkig oor die ligte straf. Dis n skande teenoor ons wilde diere en n vernedering vir ons regstelsel. Hierdie mans lag agteraf in hul mou vir hierdie “gogga maak vir baba bang” vonnissie wat hulle opgele is. Ha Ha wat n skande!!!!!!!!!!!

Custos Natura ·

Wat n klug spul….
Die skuim van die samelewing moes 25 jaar gesit het…vir elk van die welpies

George ·

Wat ‘n grap! Daardie geldjies het sulke gemors al lankal met ander diere gemaak. Glo verseker dis nie die iste keer nie

Manie van Worcester ·

selfde grap as 10000 vir verkragting. hoekom sluit hulle nie maar alle howe

Stiks ·

Wat gaan aan met die mensdom in Suid Afrika. Begin nou al hoe meer ons hulpbronne plunder. Skande!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.