Twee gevonnis wat kerkgangers beroof

hof-hamer

Argieffoto.

Twee mans wat in Maart verlede jaar by ʼn kerk in Rustenburg, Noordwes, ingestorm en skote afgevuur het voordat hulle kerkgangers beroof het, is in die plaaslike streekshof gevonnis.

Kapt. Elsabe Augoustides, woordvoerder van die polisie, het gesê Molefe Lehole (22) en Thabiso Innocent Rankhasa (32) is albei tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir roof met verswarende omstandighede.

Die twee was deel van die rooftog op 19 Maart 2017 toe drie rowers tydens ʼn diens by die kerk in Oos-einde ingestorm het. Maroela Media het vroeër berig kerkgangers is van hul selfone, kontant en handsakke beroof. Die kerk se videokamera is ook gesteel.

Vier vroue, tussen 17 en 58 jaar oud, het vleeswonde tydens die rooftog opgedoen.

Gemeentelede het destyds die mans agternagesit en een van hulle is oomblikke ná die rooftog aangekeer. Die ander twee is later dieselfde dag in Uitbreiding 13 in Boitekong in hegtenis geneem.

Volgens Augoustides het die polisie twee weke later beslag gelê op twee vuurwapens wat tydens die rooftog gebruik is. Een van die pistole is voorheen van ʼn veiligheidswag geroof. Die reeksnommer van die tweede pistool was afgevyl.

Die meeste van die goedere wat geroof is, is tydens die inhegtenisnemings teruggevind.

Die derde verdagte, Kodisang Mohajane (23), het egter intussen uit polisieaanhouding ontsnap en is steeds op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jakes ·

Die roof van polisiestasies, kerke, winkelsentrums, geldwaens ens is algemeen. Dis n kwessie van tyd voordat nuwe plekke uitgedink gaan word om te roof. Dis n vrot kutuur wat SA die muishond van die samelewing maak en niks verbaas n mens meer nie. Die knaap wat ontsnap het sal nou 2 ander maaitjies kry om hom nog plekke te roof.

Thinus Erasmus ·

SWAK! Indien daar skote op mense geskiet is, of hulle getref, beseer of gemis is, is dit POGING TOT MOORD met voorbedagte rade, net so goed soos moord, plus dan roof m.v.o. ook by.
SO word kriminele se veragtelike dade net gewone misdaad gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.