Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê die 50-jarige ma en haar 24-jarige dogter is albei skuldig bevind aan ontvoering en bedrog.
Die twee het in Februarie 2010 ʼn 7-jarige meisie by die Durban-treinstasie ontvoer terwyl sy op pad was huis toe na skool. “Hulle het vir die kind gesê haar ma het hulle gestuur, omdat die ma Johannesburg toe moes gaan,” het Naicker gesê. “Hulle het die kind by hul huis in Folweni aangehou. Die kind se van is verander en die ma het vir ʼn nuwe geboortesertifikaat by die departement van binnelandse sake aansoek gedoen, sodat sy ʼn maatskaplike toelaag kon eis.”
Die saak is deur die Durbanse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe oorgeneem en die kind is op 29 November 2013 weer gevind. Sy is tans 12 jaar oud.
“Die vrou is tot agt jaar tronkstraf vir ontvoering en ses jaar vir bedrog gevonnis. Haar dogter is 14 jaar tronkstraf vir ontvoering en ses jaar vir bedrog opgelê. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word,” het Naicker gesê.
Dit is regtig vreeslik. Hoe kan ‘n mens ‘n ander se lewe so omkrap. Arme meisietjie. Ek bid dat God haar pad vorentoe net sal seën.
Is sy met haar familie herenig, die artikel se nie?
Ek hoop die kind is met haar familie herenig. Dit is so wreed wat hulle aan haar gedoen het.
Hoeveel geld kan ‘n mens nou uit dit verdien? Rerig kanie glo dat iemand so iets doen nie. Kan mos nie winsgewend wees nie. Nog ‘n persoon om voor te sorg. Bly daar ooit iets oor vir hulself? Of was die kind dalk nog verwaarloos ook en ondervoed dalk? Die 2 vrouens is siek!
Hulle straf is heeltemal te lig! 25 jaar klink vir my bietjie beter.
Daar moet glad nie so iets bestaan dat ‘n mens geld van die regering kry as jy ‘n kind kry nie. “Kry” beteken nie vir almal dieselfde nie.
As ek dit nie mis het nie is dit sowat R350 vir n kind. As dit vir hulle die moeite werd is om n kind onwettig aan te hou wil ek nie eers weet in watter haglike omstandighede die kind was nie.