Twee gevonnis wat trouplek-eienaar doodskiet

Marius saam met sy seun Gerrie en dogter Mariska.

Die twee mans wat ʼn mede-eienaar van die bekende Maroupi-trouplek in Umhlali, KwaZulu-Natal, ten aanskoue van sy broer en ander gaste doodgeskiet het, is Vrydag in die hooggeregshof in Mtunzini gevonnis.

Aron “Poliane” Feijao Moiane (26) en Jaulane Feijao Moiane (35) is nie net skuldig bevind aan die moord op Marius Deyzel (61) nie, maar ook vir ʼn reeks ander misdade insluitend ʼn plaasaanval, gewapende rooftogte, poging tot moord, kaping, aanranding van ʼn polisiebeampte en ontsnapping uit wettige aanhouding.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê albei beskuldigdes is ná ʼn verhoor van vier weke tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Deyzel, asook 15 jaar tronkstraf vir elk van ses aanklagte van roof met verswarende omstandighede en vyf jaar tronkstraf vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

Jaulane is tot ʼn verdere vyf jaar tronkstraf gevonnis vir aanranding van ʼn polisiebeampte, asook nog vyf jaar elk vir poging tot roof en ontsnapping uit wettige aanhouding. Hy is op een aanklag van roof met verswarende omstandighede vrygespreek.

Mbele sê dié twee reeksmisdadigers se doppie het geklink toe die Vryheid-taakspan agterkom dat die modus operandi van verskeie ernstige misdade in die provinsie ooreenstem. Hulle het begin om die legkaartstukke in mekaar te pas en uiteindelik sake van Emanguzi, KwaDukuza, Umhlali en Impendle met mekaar verbind.

“Die eerste saak is op 8 November 2016 aangemeld, toe die beskuldigdes ʼn bejaarde vrou in die Zinkwazi-gebied aangeval het. Die slagoffer is aangerand, vasgemaak en beroof van verskeie items, insluitend ʼn vuurwapen,” sê Mbele.

Die Moiane-mans het weer toegeslaan op 2 Januarie 2017 toe hulle mense op ʼn plaas in die KwaDukuza-gebied oorval het. Hulle het die slagoffers met vuurwapens en messe gedreig voordat hulle met onder meer selfone, kontant, ʼn skootrekenaar en ʼn voertuig op die vlug geslaan het.

Die twee was op 28 Januarie 2017 betrokke by nóg ʼn misdaad toe hulle die Maroupi-trouplek in Umhlali binnegestorm en die slagoffers op die grond laat lê het. Deyzel het hulle gekonfronteer en is met ʼn haelgeweer in die bors geskiet. Hy het doodgebloei voordat hulp ontbied kon word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gaitsigubib ·

Dink jy huidiglik die regering is ‘n goeie wetstoepasser? Dink net hoe “fantasties” hulle die doodstraf gaan toepas.

GM ·

Ek vra dit elke keer aan julle wat so pleit vir die doodstraf – hoe kan dit werk in die hande van ‘n korrupte regering? Dieselfde reëls geld nie vir almal nie. Besef jul nie dat sekere groepe die doodstraf opgelê sal word vir sekere woorde nie, en ander sal wegkom met moord nie? Kyk hoeveel jaar sit die doodskis ouens vs. iemand wat moord gepleeg het. Kyk hoe is Vicky Momberg tronk toe gestuur, maar ander vra net verskoning vir hul uitlatings en dan is als reg. Kyk hoe dans die EFF voor die hof as ‘n witman ‘n swartkind verkrag. Waar is hulle as ‘n swartman sy eie suster se kind verkrag.
Be careful what you wish for…

Gerhard ·

Dankie GM. Dit maak my bekommerd dat mense so kan skree vir goed sonder om daaroor na te dink. Dit laat my dink aan wat Churchill glo sou gesê het: ”n Vyfminutegesprek met die gemiddelde kieser laat jou besef dat demokrasie dalk nie so ‘n goeie idee is nie…’

Sam ·

Hoekom as hulle skuldig bevind is word hulle gesigte nie gewys nie?

WitBlits ·

Ek is bly oor die skuldigbevindings, maar die vonnisse is heeltemal te lig.
Hoekom kry hulle net 5 jaar vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen en hoekom is straf nie meer hie?
Volgens artikel 120 (2) van die SA wapenwet is die vonnis 15 jaar vir iemand wat nie onwettige vuurwapens aanmeld nie, maar hier kry hulle net ‘n derde vir die besit daarvan.
Hopelike is hierdie betrokke regter nie ‘n voorstaander van “Trots Suid Afrikaans” nie!

Elsabe ·

Dankie GM jy sit dit goed uiteen. Hulle gaan lank sit. Hoop net die ander sien dit raak as voorbeeld om die misdade te stop

Marlene Oosthuizen ·

Well Done VRYHEID se taakspan! Veilig wees julle .

Hendrik UAE ·

Ons moet n fonds stig wat sal sorg vir die famielies van persone wat moordenaars,verkragters en reeksmisdadigers uit die samelewing verwyder en uithaal en tronk toe gaan daarvoor.Dink ek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.