Twee hoërskoolseuns sterf tragies

Callie Schoonraad. Foto: Verskaf

ʼn Gemeenskap is in rou gedompel nadat twee hoërskoolseuns van Rustenburg in Noordwes oor die naweek tragies in ʼn motorongeluk dood is. Een van die seuns het Vrydag 18 jaar oud geword.

Callie Schoonraad, Danie Pieterse en Christiaan Roets was boesemvriende en almal matrikulante aan Hoërskool Grenswag, voor die tragedie homself Saterdagoggend afgespeel het.

Sers. Ofentse Mokgadi, woordvoerder van die Rustenburg-polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die polisie is omstreeks 02:00 na die toneel in Bovenstraat ontbied waar hulle die bakkie waarin die tieners gery het teen ʼn boom aangetref het.

“Twee liggame [Callie en Danie] is in die bakkie se wrak aangetref en een insittende [Christiaan] is reeds na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling,” het Mokgadi gesê.

Volgens ʼn omstander wat op die toneel was en verkies om anoniem te bly, het Callie bestuur en by ʼn draai beheer oor die voertuig verloor. Die bakkie het gerol, ʼn lamppaal getref en teen die boom tot stilstand gekom. “Die ongeluk het die hele gemeenskap geruk; hulle was wonderlike kinders wat skielik weggeneem is.”

Dr. Herman Jansen, die skool se woordvoerder en berader, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig drie leerders was in die bakkie toe die ongeluk plaasgevind het.

Callie het op die graadraad en leerderraad gedien en het vir die eerste span rugby gespeel. Christiaan is die hoofseun van Grenswag.

Die leerders se afsterwe kom as ʼn groot skok vir Hoërskool Grenswag en die gemeenskap. “Albei leerders was vanaf graad 8 in die skool gewees en het hegte vriendskapsbande met hul skoolmaats gehad.”

Danie Pieterse. Foto: Verskaf

Die ongeluk volg die dag nadat die skool sy jaarlike Redemption Week afgesluit het. “Deur die week het ons elke oggend by geleentheid oor ʼn bepaalde waarde gesels. Vrydag was dit tradisie dat die skool op die rugbyveld bymekaar kom. Hierdie jaar het ons besluit om ʼn kruis en hart op die veld te maak en ʼn lugfoto is daarvan geneem. Ons het Redemtion Week Vrydag afsluit, maar was almal ná die tragiese ongeluk Maandag terug in die saal om hulde aan Callie en Danie te bring,” het Jansen gesê.

Beraders is beskikbaar gestel om die seuns se skoolmaats in die moeilike tyd by te staan, veral met die matrieks se eksamens wat ongehinderd Dinsdag afgeskop het. “Die hele skool het Maandag die geleentheid gehad om mekaar saam deur die pyn en seer te dra. Die matrieks het Dinsdag, by ʼn tafel van herinnerings, die geleentheid gehad om hulde aan Callie en Danie te bring.”

Die skool se hoof, mnr. Chris Loubser en lede van die personeel, was Saterdag by die seuns se ouers om bystand te bied.

Personeel en leerders van die skool het gesê: “Albei seuns was altyd hulpvaardig, vriendelik en goed gemanierd. Die seuns het spitsvondige humor en gesonde grappe met mekaar gedeel. Hulle was ook baie geliefd onder die ander leerders.

“In die laaste weke wat die graad 12-leerders nog saam in die klas gaan wees, sal wiskunde of letterkunde met baie minder lag en humor gedoen word. Hul stemme vol lag word nou in die hele skepping gehoor.”

Volgens Jansen herstel Christiaan goed en hy is Dinsdagoggend uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan.

Danie se begrafnis vind Donderdag om 14:00 vanuit die Volle Evangelie Kerk plaas, vanwaar die stoet na die Donkerhoek-begraafplaas gaan beweeg vir die teraardebestelling.

Callie se begrafnis is Vrydag om 14:00 vanuit die NG Moedergemeente.

Mokgadi het gesê die presiese omstandighede rakende die ongeluk is tans onbekend en word deur die polisie ondersoek. Die polisie ondersoek roetinegewys ʼn saak van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

MJ ·

Rus sag julle twee manne. Ek ken julle nie, maar my hart is seer saam met jul families en jul gemeenskap. Spoedige herstel ook aan die oorlewende seun.

Markus venter ·

Tragies. Bring herhinneringe terug van Hannebie Diedericks wat tragies in 1990 gesterf het voor die begin van matriek. Sterkte aan die leerders en spesifiek die ouers.

friedel ·

Ek het ook dadelik aan Hannebie gedink. Baie sterkte aan die families en skoolmaats.

Oom Kalahari ·

Dit is hartroerend om twee sulke pragtige jong seuns te sien heengaan, maar glo daar sal baie herrineringe agterbly by die gesin, familie, vriende, skoolmaats en Onderwys Personeel van Grenswag. Dit moet hartseer en groot skok vir die gemeenskap ook wees om twee sportiewe en vooruitstrewende seuns van hul kaliber te moet verloor. Alle medelye aan alle families en andere en wens jul alle sterkte en gebed toe in jul routyd.
RIV Danie en Callie.
Ook aan Christiaan en familie alle sterkte met sy herstel en die hartseer om jou groot maats op so vinnige en jong ouderdom te moet groet. Sterkte jongman.

Linda van Mosselbaai ·

Sterkte aan almal wat hulle so lief gehad het. Mens vra altyd so baie vrae – hulle taak op hierdie aarde is verby & hulle is nou in die volgende wêreld die Engelse stel dit altyd so mooi “passed on from this world to the next” Hoop die maats & die wat agterbly het berading gekry. Almal gaan die rouproses op sy eie manier hanteer ….sterkte

Leana ·

Innige simpatie en baie sterkte aan hul ouers naasbestandes en vriende. RIV

Z ·

Verskriklik!!!
Soooo jammer dat die ouers en ander geliefdes sulke smart moet verduur.

Hercules ·

~ geen menslike simpatiseer kan ‘n traan keer, geen mense twee hande uitreik kan jou leer hoe om te beweeg van lewe na dood en nie verstaan why, hoekom, waarom? ~ slegs Vader kan julle troos en met geroeste-spyker-deurboorde-hande-voete sal Jesus julle dra ~ Heilige Gees vou julle toe in ‘n vredes kokon van sagte liefde en vee die trane van rou ~ baie sterkte ~

Didi ·

Baie sterkte vir die pragtige kinders se naasbestaandes. Mag die Here se liefdevolle arms julle omvou in die hartseertyd.

Jenny Thom ·

Goeiedag aan die ouers van die pragseuns. Wil maar net troos en sê dat ABBA Vader hulle teruggeroep vir ‘n sekere werk wat net hulle twee kon doen. Niemand anders sou goed genoeg gewees het vir die opdrag nie. Majesteit YHWH is onvoorwaardelik geheel en al in beheer. Wees rustig en vat ‘n dag op ‘n slag. Baie sterkte

VanAfrika ·

Kan ek asseblief net sê dis nie troos woorde nie. As ouer wat n kind aan die dood afgestaan het wil jy nie hoor jou kind is dood omdat hy sy tyd op aarde benut het en God hom nou nodig het om n werk te verrig wat ander nie kon nie, huh??? Dis nonsense. My suster is minder as n maand na my seuntjie gevat, was sy dan nie goed genoeg vir hierdie werk wat net die twee seuns kon verrig het nie. God belowe verlengde dae, hoekom sal Hy jou op so vroeë ouderdom dood maak. Ek verpes dit as mense vir my sê dit was my kind se tyd om te gaan. Hywas n baba, nog nie eens kans gehad om sy armpies om my nek te gooi en my met n nat bekkie te soen en in my arms te kom lê sodat hy kan slaap. Hy moes by my gewees het, moes hom sien grootword het en n vol lewe lei. God verongeluk jou nie of skiet jou dood om jou in die hemel te kry nie. Dis die duiwel se werk. God vat net terug wat Syne is. Ek glo nooit dat as iemand jonk sterf dit sy tyd was nie. Met jou verlengde dae ja, maar voor dit, asboluut nie. Gee eerder jul medelye en gebed, moenie raad gee wat jy jouself nie verstaan nie want hoe weet jy wat God vir hierdie twee seuns, my seuntjie, my suster, my ma beplan het.

Penelope ·

Dit is verskriklik hartseer. Baie sterkte aan die families van Callie en Danie.
Niks wat enige iemand se kan jul beter laat voel nie, maar ons bid dat God julle almal sal vertroos in hierdie hartseer tyd. Baie sterkte ook vir al die onderwysers en leerders van Grenswag, ons bid jul kalmte toe gedurende die eksamens. Grenswag se onderwysers is altyd so na aan hul leerders en ons glo dat jul almal hierdie pad hand aan hand sal saamstap.
Sterkte ook aan Christiaan wat tuis aansterk, en sy ouers. Dis ‘n lang hartseer pad maar ons glo dat God julle sal dra.

izette ·

Sterkte vir die wat agter gebly het…..
Weet net waar julle hulp vandaan gaan kom…en dis van Bo af…..
Sterkte

Daisy ·

Vreeslik hartseer. Die kinders gaan vreeslik gemis word en laat n groot leemte in ons harte. Sterkte aan almal betrokke.

DS ·

My innige innige simpatie. BAIE moeilike tyd wat voorlê en sonder die Here se hulp is dit nog moeiliker. Praat uit ondervinding. Mag Hy julle troos in dié tyd en wanneer julle dit ookal nodig het. RIV seuns.

Wolf ·

My innigste meegevoel aan al die betrokenes. My hart is stukkend vir julle.

Tina ·

Ek wil net graag byvoeg by wat VanAfrika gesê het. Wanneer mense sê God het iemand weggeneem, dan maak jy eindelik ‘n monster van God. Die Bybel sê God IS liefde, waarom sal hy soveel hartseer veroorsaak en mense van hulle geliefdes neem, en nogal kinders? Dan maak dit Hom mos selfsugtig. Die Bybel sê tyd en lotgeval tref almal, verkeerde tyd op die verkeerde plek. Jammer oor hierdie pragtige seuns se ontydige dood, en, InAfrika, so jammer vir jou hartseer, mag die God van alle vrede jou troos en vrede gee.

Lena ·

1 Samuel 2:6 – Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom. Hartseer soos dit is, kan mens nie sê dit is my reg om so lank of so lank te lewe nie. Ons moet elkeen gedurig gereed wees om te gaan. Veral in SA.

Annamarie Trollip ·

Ek stem volkome saam met VanAfrika.
As ‘n Ma wat self hierdie seer pad stap die afgelope 5jr en 3 maande kan ek net vir hierdie pragtige seuns se Ouers bid want niks wat mens sê word ingeneem nie. Dit is hardverskeurend seer en dit word met die jare net erger en erger. Mag die Here hulle in die holte van Sy Hand hou in hierdie tyd. Om ‘n kind aan die dood af te staan is verseker DIE ERGSTE WAT ENIGE OUER KAN TREF.
Ek het ‘n groepie op facebook begin NET vir Ouers wat kinders aan die dood afgestaan het waar Ouers mekaar kan ondersteun en vir mekaar bid, dis waar jy kan lag en huil in een sin en almal verstaan waar deur jy gaan ….(My kind is in die Hemel)

Frank Combrinck ·

Geen ouer wat nie self hierdie pad stap het n idee wat dit behels nie. Ek het self lukraag simpatie uitgedeel tot 10 maande gelede… Om n sewentien jarige seun te begrawe is enige ouer se grootste nagmerrie, n lewenslange vonnis wat eers by die wederkoms verstryk. Vind n gebedsmaat, want daar kom dae en maande waarin jy as gelowige nie die krag of die wil gaan he om te bid nie, maar n vriend, eggenoot of kameraad se gebed sal dit draagliker maak. Satan is in beheer van sulke situasies en hy doen alles in sy mag om ons te breek, want hy weet sy tyd is min…maar ons berus in die opstandingsmore wanneer God sal terugbesorg wat sonde geggeneem het. Baie sterkte aan die naasbestaandes, en jy as familielid, kennis of vriend, wees n aktiewe luisteraar, want hulle het n oor en n skouer veel nodiger as raad en verduidelikings.

Theresa ·

Innige simpatie aan die ouers, familie en vriende.
Sterkte aan Christiaan om te herstel.

Tina du Toit ·

Dis hartseer verby. Ek kan net indink waar deur hierdie jong manne se geliefdes moet gaan. My hart breek in stukke vir julle verlies. My gebed aan elkeen is dat God met jul sal wees, sal krag gee en vertroosting. Ek bid vir julle. Mag God elkeen aanraak.

VanAfrika ·

Annemarie, net wat jy hier sê, sê ek vir mense drie en twintig jaar lank, n ouer wat n kind verloor hoor nie die “jy sal oor dit kom, dit was God se wil, God het die mooiste roos vir Sy tuin kom pluk, dit was sy tyd, sy werk is hier verrig” Ek het tot gehoor dat as my seuntjie nie gesterf het, sou my jongste nie gebore gewees het nie, Ek wil nie dit hoor nie, my hart sê my kind moes hier gewees het. Dankie Tina, vir so lank soek ek al daardie vrede wat jy noem, deesdae gaan dit beter as ander dae maar ek kom daar. Net een verskil teenoor ouers wat nie n kind verloor het nie, daar is altyd daardie graffie waarheen my hart trek, my kuier plekkie saam met hom. Net so Frank, jy rou alleen, my man het pad gevat, mense verkies om jou vermy terwyl jou hart stukkend is, nie familie of vriend naby my nie, net ek en my moedertjie wat my suster verloor het drie weke na my seuntjie se dood en so het ons mekaar gedra tot sy by my suster aangesluit het 27 Januarie 2017. Ek gun haar die vreugde saam haar kleinseun en dogter. Al wat ek vir jou kan sê is, ek voel saam met jou en ek verstaan.

Besemryer ·

Ek stem absoluut saam met jou! God kom haal NIE mense in ongelukke, skietvoorvalle, kapings, moord en roof nie. Hy belowe jou 70 jaar en daarna NOG meer jare. Ek pes dit ook as ek moet dink dat daar iewers ‘n ‘tuin met blomme-kinders’ in die hemel is. Dit is bog. God maak nie dood nie – hy geen lewe. Die gedrog van Gadara vat lewens. Mag die Here hierdie mense deur hulle rou dra

Ekke ·

Innige Simpatie aan Danie en Callie se Ouers. En ook Sterkte aan Christiaan se ouers wat hom moet bystaan deur sy herstel proses – Ligaamlik en emosioneel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.