Twee hoogswanger vroue vermoor

(Argieffoto: Kent Williamson)

Twee hoogswanger vroue is in afsonderlike voorvalle vermoor, glo deur hul lewensmaats.

ʼn 33-jarige man is in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in die Humansdorp-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn nadat sy hoogswanger vrou se lyk in bosse gevind is.

Volgens kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, was ʼn vragmotorbestuurder Vrydag omstreeks 03:00 op die N2 van Port Elizabeth na Jeffreysbaai op pad toe hy ʼn verlate motor langs die hoofweg naby die Gamtoosrivierbrug opgemerk het.

Die deure aan die bestuurderskant sowel as die passasierskant was oop. “Die bestuurder het stilgehou en ondersoek ingestel. Daar was niemand in die motor nie en hy het bloedspatsels opgemerk waarna hy die polisie ontbied het.” Die polisie het op die vrou se lyk in nabygeleë bosse afgekom.

Intussen is ʼn 34-jarige man in Noordwes in hegtenis geneem in verband met die moord op sy 27-jarige swanger vriendin.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, het gesê volgens voorlopige inligting het die verdagte by sy vriendin in die Ipelegeng-township naby Schweizer-Reneke gekuier toe hulle in ʼn argument betrokke geraak het.

Hy het sy vriendin glo daarvan beskuldig dat sy hom verneuk waarna hy haar met ʼn mes in haar bors gesteek het. Hy het haar toe glo na ʼn kliniek gevat waar sy aan haar wonde beswyk het. Die man is kort daarna in hegtenis geneem.

Die vrou was glo sewe maande swanger, het Funani gesê.

Die verdagte sal binnekort in die Schweizer-Reneke-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.