Twee hoor vandag hul lot ná 4 se moord op plaas

Amos Mthembu (links) en Prince Mngomezulu in die hooggeregshof in Delmas (26 Junie 2018). Foto: Maroela Media

Twee mans sal na verwagting Woensdag in die hooggeregshof in Delmas gevonnis word in verband met die wrede aanval op ʼn plaas in die Balfour-omgewing in Mpumalanga waartydens vier lede van die Smuts-familie uitgewis is.

Gert Smuts (78), sy vrou, Paulina (71), hul seun, Louis (47), en skoondogter, Belinda (42), se liggame is in Februarie verlede jaar op die plaas Modderbult aangetref. Amos Mthembu (29), wat as die gesin se tuinwerker werksaam was ten tyde van die voorval, het tydens die verhoor erken hy het die vier slagoffers vermoor.

Die hof het gehoor Mthembu het vir Louis gevra of hy geld by hom kan leen, maar Louis het gesê hy het nie geld om vir hom te leen nie. Mthembu het in sy pleitverduideliking gesê hy het gedink Louis hét geld, maar wou dit net nie vir hom leen nie.

Hy het aan die hof vertel hoe hy eers vir Paulina vermoor het voordat hy vir Gert buite die huis doodgeskiet het. Hy het daarna vir Louis vermoor en daarna vir Belinda vasgebind voordat hy later die aand teruggekeer en haar doodgeskiet het.

Louis, Belinda en hul kinders. Foto: Facebook.

Mthembu beweer hy het die volgende oggend vir Prince Mngomezulu (27), die tweede beskuldigde, op pad dorp toe aangetref en het vir hom ʼn rygeleentheid gegee asook een van die skootrekenaars wat hy uit die huis gesteel het. Hy het aan Mngomezulu erken hy het die plaaseienaars vermoor.

Mthembu het in sy pleitverduideliking erken hy het wel seksuele omgang met Paulina gehad, maar het aangevoer dat dit met haar toestemming was en dat hy haar nie verkrag het nie. Die hof het egter beslis dat sy weergawe nie moontlik waar kan wees nie en het dit verwerp.

Mthembu is in Junie skuldig bevind op vier aanklagte van moord, ʼn aanklag van verkragting, een van roof met verswarende omstandighede, een van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en een van die onwettige besit van ammunisie. Mngomezulu is skuldig bevind op aanklag van die besit van gesteelde goedere.

Die beskuldigdes sou in Julie gevonnis geword het, maar die saak is uitgestel aangesien die verslae van maatskaplike werkers nie gereed was nie.

Lees alle vorige berigte oor die Balfour-plaasmoord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Watter siek redenasie van die beskuldigde.

Al het wie ook al R10 miljoen hoef hy/sy nie R100 of R1000 vir jou te leen net omdat jy vra nie. Dit is in die eerste plek daardie persoon se geld. Hy/sy kan daarmee maak wat hy wil. Dit sluit ook in om dit nie vir jou te leen nie. Dit regverdig nie die doodstraf en verkragting indien die persoon verkies om dit nie vir jou te leen nie.

Wayne Gibbs ·

Waarom betoog die ANC en die EFF nie voor die hof nie? Die misdade is baie erger as om ‘n beweerde misdadiger in ‘n kis te sit en skrik te maak en sonder ‘n skrapie vry te laat. Die rede is oënskynlik omdat die slagoffers wit is en die oortreders swart. Beteken dit dat die organisasies rassisties is?

AmY ·

Sy het hom toestemming gegee?
Hy het haar dus nie verkrag nie?
Siek!!!

Johan ·

En weer die belaglike regstelsel wat die saak uitgestel het vanaf Julie oor die maatskaplike werkers se verslae nie reg was nie. Wat ‘n grap !!!! Daai man het mense vermoor – punt oor en uit. Wat wil enige maatskaplike werker nou skryf – dat hy nie mooi gedink het nie? Dat hy kwaad was? Asseblief. Die saak moes in Julie afgehandel gewees het. Miskien moet die maatskaplike werkers beboet word oor hulle nie hulle werk betyds gedoen het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.