Foto’s: Twee huise verwoes in Mosselbaai-brand

Dik rook en vlamme kan gesien word waar die brand tans in Mosselbaai in die Wes-Kaap woed. (Foto: Andrew Sokolic via Facebook)

Twee huise is reeds verwoes in die wegholbrand wat tans by Hartenbos Heuwels in Mosselbaai in die Wes-Kaap woed.

Chantel Edwards, munisipale woordvoerder, het aan African News Agency gesê die George-brandweerdienste het bemanning en ʼn brandweerwa na die toneel gestuur om die vlamme te help blus. Lugondersteuning is ook na die gebied ontplooi.

Video’s op sosiale media het getoon hoe die vlamme gevaarlik naby huise in Hartenbos Heuwels woed, terwyl ʼn helikopter waterbomme vanuit die lug op die vlamme gooi.

Mosselbay Advertiser berig inwoners van Hartenbos Heuwels is opdrag gegee om hul huise te ontruim, maar dié inligting is nie deur die munisipaliteit bevestig nie. Die Mosselbaai-munisipaliteit het teen 15:00 bevestig dat twee huise reeds in die slag gebly het, asook dat ʼn brandbestryder beseer is.

Dik rook kan gesien word waar die brand tans in Mosselbaai in die Wes-Kaap woed. (Foto: Sheena Mouton via Facebook)

“Brandbestryders van Mosselbaai werk hard om die vuur in bedwang te bring. Die bemanning word bygestaan deur die George-munisipaliteit en die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, asook deur Working on Fire en Mossel Bay Helicopters. Ons hoop om die brand binnekort te beperk, maar die vlamme word tans aangeblaas deur sterk winde in die gebied,” lui die munisipaliteit se verklaring.

Leerders van die Sonskynvallei-speelskool word intussen om veiligheidsredes by die Hartenbos Laerskool gehou. Die R328 tussen Mosselbaai en Oudtshoorn is tydelik vir verkeer gesluit, maar omstreeks 15:45 weer heropen.

Die Suid-Kaapse Brandbeskermingsvereniging het Maandagoggend gewaarsku gevaarlike brandtoestande heers in die Kaapse Wynlandstreek, sentrale Karoo, Eden- en Overberg-distrikte, asook in gedeeltes van die Noord-Kaap, Noordwes en die Vrystaat.

Hou Maroela Media dop vir meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alida ·

Hoekom brand die mooiste plek in SA nou. Iets is nie pluis nie. Dit is hartverskeurend. Daar us baie houthuise en ander met grasdakke. Die duiwel is los.

Hennie ·

Dit en al die ander brande wat onstaan is beslis georganiseerd gras en bome slaan nie net aan die brand nie .

Derick ·

Ek ruik n rot. Hoekom is daar nou ewe skielik so baie brande in die Kaap provinsie?
Is dit a.g. v. die DA se beheer in daai provinsie, dat iemand dalk die oorsaak kan wees van die brande?
Ek vra maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.