Twee in hegtenis wat Ndebele-kunstenaar glo beroof

Esther Mahlangu (Foto: Esther Mahlangu, Facebook)

Die polisie het Donderdag twee mans in Mpumalanga in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat hulle die bekende Ndebele-kunstenaar Esther Nostokana Mahlangu (87) verlede maand aangeval en beroof het.

Die verdagtes, onderskeidelik 32 en 37 jaar oud, sal na verwagting Vrydag in die Mdutjana-landdroshof verskyn. Hulle staan op aanklagte van die besit van ʼn onwettige vuurwapen en huisroof tereg.

Mahlangu is op 19 Maart in haar huis in Siyabuswa naby KwaMhlanga, Mpumalanga, oorval.

Maroela Media het vroeër berig dat sy omstreeks 15:00 op die betrokke dag haar huis se deure gesluit het om daarna ʼn middagslapie te neem. Dit is toe dat sy ʼn onbekende man in die huis gewaar het.

Dié man het haar na bewering aangerand, haar hande vasgebind en haar glo gewurg totdat sy haar bewussyn verloor het. Sy het later besef dat haar vuurwapen en kluis met kontant gebuit is.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê dat sewe verdagtes aanvanklik deur die polisie vir ondervraging ingebring is, maar dat vyf nie positief met die voorval verbind kon word nie.

Die eerste van dié verdagtes is glo 02:00 Donderdagoggend by Mogononong in Siyabuswa vasgetrek en met die gesteelde vuurwapen in sy besit betrap. Die vuurwapen was in ʼn plastieksak toegedraai en in ʼn toiletbak versteek. Die reeksnommer is volgens die polisie afgevyl.

Dié verdagte het ʼn ander verdagte aan die polisie uitgewys by wie hy glo die vuurwapen gekoop het. Só het elkeen van die ander verdagtes ook die vinger na iemand anders gewys as die persoon wat die vuurwapen aan hulle verkoop het.

Die vierde verdagte wat vir ondervraging ingeneem is, het eindelik erken dat hy by Mahlangu se huis ingebreek het en die vuurwapen en geld gesteel het. Die gesteelde kluis is ʼn paar kilometer verder in Ramokgeletsane opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Gelukkig is die vuurwapen teruggevind en van die straat af om verdere misdaad te voorkom insluitend moord.Waar is die ou gogo se geld.

Misky ·

Die polisie het darem vreeslik baie moeite in die saak gesit na sy geroof is. Hoekom kry alle sake nie dieselfde aandag nie? Duisende mense word daagliks geroof en selfs vermoor en hulle is min gepla.

Daniel ·

Lafaards, twee mans om ‘n ou persoon aan te val, dis walglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.