Twee in hof ná dood van 2-jarige

hof-hamer

Argieffoto

Die saak teen die twee mans wat aangekla word van die moord op die tweejarige Hakeem Baartman is tot later vandeesmaand uitgestel.

Marshall Thomas en Maxwell Muller word aangekla van die moord op Hakeem in 2017. Die verhoor was veronderstel om Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth te begin, maar is weer uitgestel.

Thomas en Muller het nog nie gepleit op die aanklagte teen hulle nie. Muller het nie voorheen regsverteenwoordiging gehad nie, maar word nou deur ʼn prokureur van die regshulpraad verteenwoordig. Sy regsverteenwoordiger moet nog sekere dokumente kry ten einde vir die verhoor voor te berei.

Regter Irma Schoeman is ook tans besig met die afsluiting van ʼn ander verhoor.

Die staat voer aan Hakeem het op 18 November 2017 saam met sy oom in Helenvale geloop in ʼn gebied wat as “Die Gat” bekend staan toe die skietery plaasgevind het.

Hakeem is deur ʼn dwaalkoeël in die kop getref en op die toneel dood verklaar. ʼn Tienerseun is ook in die nek geskiet. Thomas het glo vir die tienerseun gemik toe hy Hakeem raakgeskiet het.

Thomas word ook aangekla van poging tot moord op Hakeem se oom.

Die verhoor sal na verwagting op 25 Maart begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.