Twee in hof ná hotelbestuurder se dood

Die prokureur Noorudien Hassan, wat gereeld bendebase verteenwoordig het, is ’n dag voor die hotelbestuurder Craig Mahtieson uitgehaal. Foto: Facebook

Twee beskuldigdes het vir die eerste keer in die hof verskyn twee jaar nadat hulle glo ʼn Kaapse hotelbestuurder doodgeskiet het.

Sillico Zainauet Oliphant (36) en Moegamat Faizel Abrahams (38) is uiteindelik Vrydag 19 Oktober aangekeer ná die Valke se twee jaar lange ondersoek na die moord op Craig Mathieson (44) in November 2016.

Mathieson het Hotel 303 in Hoofweg, Seepunt, bestuur ten tyde van sy dood. Niks is tydens die moord geroof nie, wat die indruk geskep het dat dié pa van drie met voorbedagte rade vermoor is.

Hy het blykbaar bande met die Kaapse bendewêreld gehad en is doodgeskiet ʼn dag nadat die prokureur Noorudien Hassan, wat gereeld bekende bendebase verteenwoordig het, ook vermoor is, berig News24.com.

Die saak is Maandag uitgestel tot volgende Dinsdag wanneer die twee beskuldigdes amptelik om borgtog aansoek sal doen.

Genl.maj. Nombuso Portia Khoza, Wes-Kaapse hoof van die Valke, het die inhegtenisnemings verwelkom en beamptes van die eenheid geloof vir hul harde werk om te verseker dat die vermeende oortreders aan die kaak gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.