Twee in hof ná ma voor kind vermoor is

Bianca Parsons. Foto: Facebook

Twee verdagtes het Woensdag in die Durban-landdroshof verskyn op aanklag van moord in verband met die skietdood van Bianca Parsons (33) verlede maand.

Die saak teen Darryl Muttisson (33) en Christopher Houston (26) is tot 7 Maart uitgestel wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

“Die verdagtes is op 26 Februarie in hegtenis geneem en ʼn pistool en ammunisie is in een van die verdagtes se besit gevind. Die vuurwapen is vir ballistiese toetse gestuur om vas te stel of dit vir die moord gebruik is,” het lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê.

Maroela Media het vroeër berig Parsons is die aand van 24 Februarie ten aanskoue van haar driejarige dogtertjie doodgeskiet. Sy en haar dogtertjie het in hul motor gesit by ʼn Engen-vulstasie in Wentworth terwyl haar man, Orson, in die vulstasie se kafee was.

Orson het skote gehoor en toe hy buite kom, het hy gesien sy vrou is geskiet. Sy is glo uit die motor getrek voor sy twee keer in die bolyf geskiet is.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het vroeër gesê die kind is ongedeerd in die motor gevind.

“Toe ons paramedici by die toneel opdaag, het hulle die ma aangetref waar sy op die grond lê. Sy het omvattende beserings opgedoen. Daar was niks wat paramedici vir haar kon doen nie en sy is op die toneel dood verklaar,” het Jamieson gesê.

ʼn Saak van moord is deur die Wentworth-polisiestasie aanhangig gemaak. Genl.maj. Bheki Langa het die polisiebeampte geloof vir die flink optrede. “Ons sal seker maak dat ons genoeg bewyse bymekaarmaak en ʼn deeglik voorbereide dossier na die hof stuur sodat ʼn  vervolging onvermydelik is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JAMMER ·

So word daar geroof en gemoor maar die FOKUS bly steeds op grondonteiening .. mooi so manne . julle gedra julle knap. Julle voel NIKS vir die lewens van julle landsburgers nie . .julle voel net iets vir julle sakke en julle lekker posisies in die parlement. Simpatie aan haar naasbestaandes.

liz ·

Polisiebeamptes word geloof vir hulle flinke optrede en deeglike werk, EKSKUUS die mense word betaal, natuur moet hulle die werk sekuur en flink verrig dis hulle flippen werk~!!!!!

ChristaT ·

Wat is verkeerd darmee om mense (polisiemanne/vroue) te loof vir hulle vinninge en flink optrede. Dit lig die moraal van die mense in hul werkplek. Ek sal ook hulle loof wat hulle werk doen. Negatiewe mense sal daar mos maar altyd wees ne.

Cherokee ·

liz is nie noodwendig negatief nie maar uiters realisties. Sê jy dankie aan die treindrywer wat jou veilig in Mosselbaai besorg en die vlieënier wat jou veilig Kaapstad toe vlieg, … of die minister van finansies wanneer hy belasting verminder? Of Pick n Pay as Koffiehuis goedkoper word? liz het realistiese kommentaar gelewer. Hulle doen werk waarvoor hulle betaal word.

Denise ·

En so sterf onskuldige mense elke dag en net mooi niks word ontrent al die moorde gedoen nie maar daar word gal gebraak oor n ou lands vlag hoe pateties !!!!!!

Cornelia ·

Christa T, as ek ‘n lid van die polisiemag was, sou ek die Here geloof het vir jou “dankie”. Om die slegste en donkerste kant van mense se skokkende dade elke dag te moet aanskou en te hanteer, is geen geringe saak nie. En elke lid in die polisiemag, waarvan baie ook medegelowiges is, kyk die leeu in die bek, wetend dat hulle eie lewe met elke uitroep en optrede, in die visier van die boosdoeners mag wees. Dankie vir jou mooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.