Twee in hof ná moord op kleinhoewe

Jurie en Riekie Steenberg Foto: Facebook

Twee verdagtes het Donderdag in die Cullinan-landdroshof verskyn op aanklag van die moord op Riekie Steenberg, wat in Junie verlede jaar op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift, noordoos van Pretoria, doodgeskiet is.

Ao. Werner van den Berg, ondersoekbeampte, het aan Maroela Media gesê Dolfie Sambok (46) en Karabo Semake (25) het vlugtig in die hof verskyn. “Hulle moet volgende week op 12 April weer in die hof verskyn sodat hulle regsverteenwoordiging kan bekom en waarskynlik om aansoek te doen om borgtog,” het Van den Berg bygevoeg.

Riekie se man, Jurie Steenberg, was ook Donderdag in die hof. Hy is tydens die aanval op 28 Junie 2016 met ʼn koevoet oor die kop geslaan en in die rug geskiet. “Ek is dankbaar dat die twee persone wat in hegtenis geneem is reeds vir die polisie ʼn aanduiding gegee het waar die ander aanvaller is,” het hy aan Maroela Media gesê. “Ek het ʼn beloning van R20 000 beskikbaar gemaak vir enige inligting oor die aanval.”

Steenberg het reeds verhuis en het tans huurders op die kleinhoewe waar hulle gebly het. “Ek wil ook my besigheid verkoop, ek wil alles verkoop.” Hy het ʼn onderneming wat grasdakke en lapas vervaardig.

Riekie se seun, Diaan Lourens (25), was ook Donderdag in die hof. “Dit is maar baie sleg om die ouens te sien,” het hy aan Maroela Media gesê. “Ek sal probeer om, sover dit vir my moontlik is, die hele hofsaak by te woon.”

Maroela Media het vroeër berig die eerste verdagte is Dinsdag naby Brits in hegtenis geneem. Die tweede verdagte is Woensdag in die vroeë oggendure naby Rustenburg vasgetrek.

Die egpaar is op hul kleinhoewe in Leeuwfontein aangeval. Jurie het omstreeks 04:30 die oggend opgestaan en uit die kamer gestap toe die drie aanvallers hom met ʼn koevoet oor die kop geslaan het. Hulle was reeds in die huis. ʼn Struweling het ontstaan en Riekie is in die skouer geskiet. Jurie is ook in sy rug geskiet.

Die rowers het op die vlug geslaan en Jurie het in sy voertuig gejaag om hulp te gaan soek. Met paramedici se aankoms by die huis was Riekie reeds dood. Jurie het die aanval oorleef.

Jurie het in Februarie vanjaar tydens ʼn onderhoud met Maroela Media vertel hoe sy eerste vrou, Suna (42), ook tydens ʼn aanval op dieselfde kleinhoewe doodgeskiet is. Nog niemand is in verband met daardie aanval in hegtenis geneem nie.

“Mense sê ek moet vir berading gaan sodat ek oor dit kan kom,” het Jurie in die onderhoud gesê. “Kom ek sê jou nou, jy kom nooit oor dit nie. As jy die aand in jou bed klim en jy sien weer voor jou geestesoog wat gebeur het, is daar nie ʼn sielkundige om jou te help nie. Ek lewe elke dag saam met hierdie goed.”

Lees alle vorige berigte oor Jurie en Riekie Steenberg op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.