Twee in hof ná moord op verlamde boer

(Argieffoto)

Twee verdagtes wat verlede maand in hegtenis geneem is vir die moord op Neil McKay (46), ʼn KwaZulu-Natalse boer wat in ʼn rolstoel was, verskyn vandag (Donderdag) in die Colenso-landdroshof vir ʼn formele borgtogaansoek.

Maroela Media het vroeër berig dat McKay een Vrydagaand in April doening was in die kantoor op sy plaas in die Winterton-omgewing. Die plaasbestuurder en die res van die werkers het reeds huiswaarts gekeer vir die aand toe McKay deur twee verdagtes oorrompel is.

Volgens Alf Lees, die DA se kiesafdelingshoof in Uthukela wat ook in die omgewing woon, is die kluis in die kantoor geplunder. Die aanvallers het McKay na sy huis geneem en hom vermoedelik daar in sy rolstoel verwurg.

McKay se ma het die Saterdagoggend op sy liggaam afgekom.

“ʼn Onbekende bedrag kontant, ʼn verkyker en ʼn luidspreker is gevat ná die aanval,” sê kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder.

ʼn Saak van moord is by die Winterton-polisiestasie geopen.

“Danksy ʼn span toegewyde speurders het hulle daarin geslaag om verlede maand twee verdagtes in hegtenis te neem.”

Die eerste verdagte, Bongani Mkhwanazi (18), is in die Khethani-omgewing in Winterton in hegtenis geneem, terwyl die tweede verdagte, Bokang Petrose Tstasi (23), in Acaciaville in Ladysmith weggekruip het. Tstasi het McKay se verkyker en luidspreker in sy besit gehad.

“Die verdagtes het verlede maand in die hof verskyn en sal vandag ʼn formele borgtogaansoek indien,” sê Gwala.

“Neil McKay was ʼn saggeaarde, vriendelike en vredeliewende man wat met passie geboer het nadat sy nou oorlede pa alles moontlik gedoen het om dit vir sy geliefde seun moontlik te maak om uit ʼn rolstoel te boer,” het Lees destyds gesê.

McKay was glo jare gelede in ʼn ander plaasaanval gewond. Hy het destyds vir ʼn ander boer in die omgewing gewerk, toe hy deur ʼn deur geskiet en in ʼn rolstoel gelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Persheks Adri ·

Laat ons nou kyk hoeveel borg die knape gaan kry gggmmmfff seker R500… Ek hoop en bid hulle kry nie, maar ons weet hoe stelsel werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.