Twee in hof nadat hulle van weermag steel

Die kiste waaruit die wapens gesteel is. (Foto: Facebook)

Twee lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is in hegtenis geneem nadat hulle glo gewere vanuit die Lyttleton-weermagbasis in Pretoria gesteel het. Hulle is Woensdag borgtog toegestaan.

O.kpl. Sidwel Babini Tyawana (36) en sappeur Tumelo Christian Mangale (28) is in Februarie in hegtenis geneem nadat hulle in Desember 18 R4-gewere en drie vuurwapens by dié weermagbasis gesteel het.

Luidens ’n gesamentlike verklaring uitgereik deur die SANW en Valke is Tyawana op 3 Februarie in Oudtshoorn in die Wes-Kaap in hegtenis geneem. Mangale is twee dae later vasgetrek terwyl hy aan diens was by die SANW se ingenieursafdeling.

Intussen het dit aan die lig gekom dat die gesteelde vuurwapens versteek was en dat die ander gewere in onder meer die Oos-Rand-omgewing aan verskillende mense verkoop is.

Na aanleiding van leidrade is ʼn derde verdagte, Kgotso Mooketsi (36), ’n werknemer van die departement van onderwys in Gauteng, ook in hegtenis geneem. Hy was in besit van ’n R4-geweer en drie leë magasyne.

Hy is vroeër op borgtog vrygelaat nadat hy in verband met ’n gewapende rooftog in Springs in hegtenis geneem is. Hy het onderskeidelik in Februarie en April in die Springs-landdroshof verskyn op aanklagte van die gesteelde wapens en is tans in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op 4 Mei.

Luidens die verklaring is nóg 13 versteekte R4-gewere en ʼn 9 mm-vuurwapen in Daveyton in Gauteng ontdek. ʼn 9 mm-vuurwapen is ook in die veld in Kwa-Thema in die Oos-Rand gevind. Dié gewere en vuurwapens is vir ballistiese toetse na Pretoria gestuur.

Tyawana en Mangale gaan na verwagting weer 17 Junie in die militêre hof in Thaba-Tshwane verskyn.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het die militêre polisie en Valke se gesamentlike ondersoekspan geloof vir hul harde werk om dié twee vas te trek. Lebeya sê hulle sal alles in hul vermoë doen om die oorblywende vuurwapens op te spoor en al die skuldiges sal vasgetrek word.

Genl. Solly Shoke, hoof van die SANW, het ook die ondersoekspan geprys vir die vinnige optrede wat tot die inhegtenisneming van die twee verdagtes gelei het.

“Die weermag is nie ’n plek vir misdadigers nie. Geregtigheid sal geskied vir diegene wat wel verantwoordelik is vir enige misdaad,” sê Shoke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

En hulle kry borg ?

SomeOne

hoe veilig was die vuurwapens gebere tydens die diefstal, ek stel voor geen borg, sluit hulle op want dit kon gelei het na ‘n staatsgreep, massa moord, nog transito rooftogte,al sulke verdagte gebeurtenisse
moenie ‘n presedent skep nie

Fedup

Tell me again why these people are not in prison?

Genis

Op borg? Is hulle van hulle koppe af, dis verraad? Ek ruik n rot!

Hans

Toe ons nog n weermag gehad het was dit hoogverrad, en kon strafbaar met die dood gewees het