Twee in hof oor dwelmlaboratorium

Argieffoto

ʼn Duitse burger en ʼn 25-jarige Suid-Afrikaner het Dinsdag in die Worcester-landdroshof verskyn nadat lede van die Valke Vrydag in die vroeë oggendure op ʼn dwelmlaboratorium en onwettige vuurwapens op ʼn plaas in Touwsrivier en by ʼn huis in Houtbaai afgekom het.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het gesê lede van die narkotikaburo (Saned), misdaadintelligensie en die K9-eenheid het die operasie uitgevoer en op die geheime dwelmvervaardigingslaboratorium afgekom.

Daar is op dwelmvervaardigingstoerusting, hidroponiese dagga, daggaplante, LSD, kokaïen en Ecstasy-tablette beslag gelê.

Daar is ook op twee jaggewere, ʼn handwapen en ammunisie beslag gelê. Die vuurwapens is vir ballistiese toetse gestuur om te bepaal of dit in die uitvoer van enige misdade gebruik is. Vyf mense is tydens die operasie in hegtenis geneem.

Johannes Runz (35) en Travis Moore (25) het reeds in die hof verskyn op aanklagte van dwelmhandel en die onwettige besit van vuurwapens. Moore is op borgtog van R50 000 vrygelaat en moet weer op 7 November in die hof verskyn. Runz bly in aanhouding tot 2 Oktober wanneer hy om borgtog sal aansoek doen.

“Die aanklagte teen die ander drie verdagtes, ʼn Duitser, Suid-Afrikaner en Malawiër, is voorlopig teruggetrek hangende nadere ondersoek,” het Ramovha gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.