Twee in hof oor hoofregter-inbraak

Msimango en Jose in die hof. Foto: ANA

Msimango en Jose in die hof. Foto: ANA

Twee mans het Woensdag in die Mamelodi-landdroshof verskyn in verband met die inbraak die afgelope naweek by hoofregter Mogoeng Mogoeng se kantoor in Midrand.

Given Msimango (20) en Bigboy Jose (37) het vlugtig in die hof verskyn nadat hulle Maandag in hegtenis geneem is. Msimango staan tereg op aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie terwyl Jose teregstaan op aanklagte wat verband hou met die vervalste identiteitsdokumente wat glo in sy besit gevind is.

Volgens die klagstaat is twee ongelisensieerde vuurwapens en 36 rondes ammunisie in Msimango se besit gevind. Vier identiteitsdokumente is in Jose se besit gevind.

Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende polisiehoof, het Woensdagoggend aangekondig drie mense is in hegtenis geneem in verband met die rooftog Saterdag. Die derde verdagte is egter kort voor die hofverskyning vrygelaat aangesien daar glo nie genoeg bewyse is om hom by die misdaad te betrek nie. Die saak teen die ander twee mans is tot 30 Maart uitgestel wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Sammy Mahlangu, regsverteenwoordiger vir Msimango en Jose, het buite die hof aan verslaggewers gesê sy kliënte kan nie aan die rooftog verbind word nie. “Daar is geen skootrekenaars in hul besit gevind nie.”

Maroela Media het vroeër berig minstens 15 rekenaars, wat sensitiewe inligting bevat, is uit ʼn kantoor in Midrand gesteel, wat onder meer menslikehulpbroninligting van regters en werkers van die kantoor van die hoofregter bevat.

Phahlane het tydens gister se mediakonferensie gesê die polisie is nou op soek na ene Nkosinathi Msimango, wie se naam opgeduik het tydens ondervraging van die ander verdagtes. Volgens Phahlane kan dié Msimango moontlik die polisie met meer inligting bystaan. Hy is glo die broer van Given Msimango.

Lees alle vorige berigte oor Mogoeng Mogoeng op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chaparel ·

Nou staan hulle daar in die hof en Bigboy voel nie meer so big nie.

Theresa B ·

Daardie rekenaars is klaar by die “eienaar/s” wat dit “aangevra” het. Dink julle nou regtig hulle sal alles by hulle hou. 1+1=2 hoor. Regtig!!!!

jaco ·

Swart rowers besteel die Staat, wat deur die ANC beheer word. ANC-regering sê misdaad is nie so erg nie en praat amper misdaad teen wit mense goed. So ek sal graag wil sien hoe verloop hierdie verhoor van 2 swart rowers wat die swart ANC beroof het.

John ·

Wat ‘n deurbraak. Mens wil glo die GW-hof slaag seker ‘n groot sug van verligting oordat die polisie net so op en wakker soos Sassa is… En na die’ 2 opgetel is, doodse stilte vanuit polisiegeledere… Seker uitgemoeg van al die soek…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.