Twee in hof oor KZN-dosent se ontvoering, moord

Shan Dwarika

Sihle Mkhize (25) en Siyabonga Maye (35) het in die Durban-landdroshof verskyn in verband met die ontvoering en moord op ʼn dosent aan die Mangosuthu Universiteit vir Tegnologie (MUT) in KwaZulu-Natal.

Maroela Media het vroeër berig Shan Dwarika (61), ʼn dosent in elektriese ingenieurswese aan die MUT, se liggaam is Saterdag in ʼn veld naby die Inanda- informele nedersetting gevind nadat sy voertuig op 28 Mei gekaap en hy ontvoer is.

“Mkhize en Maye staan tereg op aanklag van ontvoering, moord en roof met verswarende omstandighede,” sê Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag.

Die saak is tot 13 Junie uitgestel vir borgtog-inligting.

Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê daar word na minstens nog twee verdagtes gesoek wat glo by die ontvoering en moord op Dwarika betrokke was.

Dwarika is die laaste keer gesien waar hy herstelwerk aan sy eiendom in Sea Cow Lake gedoen het. Beeldmateriaal van kringtelevisiekameras wys hoe drie mans Dwarika agter in sy voertuig gedwing het voor hulle weggejaag het.

Prof. Marcus Ramogale, waarnemende visekanselier van MUT, het gesê Dwarika het sy hele lewe daaraan toegewy om ʼn positiewe invloed in die lewe van mense in histories benadeelde gemeenskappe uit te oefen.

“Hy was 26 jaar lank by MUT en het elke dag vanaf Verulam na die kampus gery en altyd langer gebly om studente te help. Dit is skandelik dat hy op hierdie manier vermoor moes word.”

Volgens Dwarika se kollegas het hy ʼn positiewe lewensuitkyk gehad en was lief vir sy gesin. “Hy was lief vir sy familie en kleinkinders net soos hy die studente met sy hele hart liefgehad het.”

Berading sal deur die universiteit aan Dwarika se familie, kollegas en studente verskaf word. Ramogale het gesê verteenwoordigers van MUT sal Dwarika se gesin so gou moontlik besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

So bitter tragies dat sy mooi lewe so moes eindig aan die hand van boosheid

Raadsman ·

Hierdie geval en elke ander soortgelyke insident le ek voor die die deur van onbevoegde Bkeki Cele wat ons belasting geld verorber en niks beteken nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.