Twee in hof oor liggaam in kattebak

André Oosthuizen. Foto: Via Facebook

Wouter Beyneveldt (31) en André Oosthuizen (21) het Dinsdag in die Cullinan-landdroshof, oos van Pretoria, verskyn in verband met die moord op ʼn man wie se liggaam Sondag in die kattebak van ʼn motor gevind is.

Ao. Johan van Dyk, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Beyneveldt en Oosthuizen, albei inwoners van Kameeldrift, staan tereg op aanklag van moord.

Alhoewel die Sinoville-polisie die moordsaak ondersoek, word die saak in die Cullinan-landdroshof aangehoor aangesien dit nader aan die moordtoneel, in Kameeldrift, is.

“Hulle het vlugtig in die hof verskyn. Die saak is tot volgende week uitgestel wanneer die beskuldigdes na verwagting om borgtog gaan aansoek doen,” het Van Dyk gesê.

Van Dyk het gesê die familie van die oorledene het versoek dat die man se naam tans nie bekend gemaak word nie. “Sy bejaarde ma is steeds vreeslik getraumatiseerd en die polisie sal die familie se wense respekteer.”

Maroela Media het vroeër berig die Tshwane-metropolisiebeamptes het Sondagoggend op ʼn gruvonds in ʼn kattebak van ʼn luierende motor afgekom.

Wouter Beyneveldt. Foto: Via Facebook

Die voorval het omstreeks 08:00 in Montanapark, in die noorde van Pretoria, plaasgevind toe ʼn wit Jetta ʼn padteken getref en in die middel van die pad op ʼn verkeerseiland te staan gekom het. Dit het op die hoek van Sefako Makgathorylaan en Calliandrastraat plaasgevind.

“Lede van die publiek het nader gegaan. Die motor het nog geluier, maar die bestuurder was nêrens te vinde nie. Hulle het toe die metropolisie ontbied en die motor is deur metrobeamptes deursoek – dit is toe dat hulle ʼn man se liggaam in die kattebak aangetref het,” het Van Dyk vroeër gesê.

Van Dyk het bevestig dat die slagoffer se hande vasgebind was en dat hy vol bloed was. Die oorsaak van die man se dood is nog nie bekend gemaak nie. Die moord is glo in Kameeldrift gepleeg waarna die liggaam verwyder is.

Die twee verdagtes is kort na die voorval in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

christa ·

sulke gemors lewe hier tussen ons. Hulle moet geen borg kry nie.

Chané ·

Genade, Wouter Beyneveldt is in dieselfde kerk as ek. Ons ken hom as Soutie en het hom al baie Sondae na kerk ‘n saamry geleentheid huis toe gegee

fm ·

Ai tog maar daar is baie moordenaars in hierdie land. Kyk net die klomp van Krugersdorp waar selfs die Ma gemoor het en die klomp van Mooinooi! ‘n Mens moet uiters versigtig wees. Hoekom lyk die foto’s so snaaks????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.