Twee in hof oor lisensie-slenter

lisensie

Argieffoto.

Twee verdagtes van Bloemfontein in die Vrystaat, onderskeidelik 39 en 45 jaar oud, het dié week in die landdroshof in Bloemfontein verskyn in verband met die lisensie-bedrogskema by die Lengau-toetssentrum in dié stad.

Sers. Sinah Mpakane, woordvoerder van die polisie, het dié nuus bevestig.

Pakiso Mosala (39) het reeds op 9 Julie in die hof verskyn en is borgtog van R2 000 toegestaan. Die saak teen hom is tot 1 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek. Boitumelo Kgabale (45) het Donderdag in die hof verskyn, maar sy verhoor is tot 19 Julie uitgestel vir ʼn formele borgtogaansoek.

Mpakane sê die twee mans is in afsonderlike voorvalle by die Lengau-toetssentrum in hegtenis geneem op aanklag van bedrog. Die polisie het volgens haar bedrieglike dokumente in beide mans se besit gevind.

Beide mans word verdink daarvan dat hulle deel is van ʼn sindikaat wat by die Lengau-toetssentrum te werk gaan.

Dié mans se hofverskynings kom nadat die polisie vroeër ʼn beroep op mense gedoen het om na vore te kom as hulle dalk ook slagoffers van dié bedrogskema was.

Die sindikaat maak na bewering misbruik van niksvermoedende slagoffers wat na die sentrum kom vir hul lisensies. Hulle bied dan vir die slagoffers hulp aan teen ʼn “minimale fooi” van tussen R2 500 en R4 000. Mpakane het voorheen gesê die slagoffers word daarna opdrag gegee om in die kantoor te gaan wag tot die einde van kantoorure wanneer hulle sal terugkeer met die lisensie, maar die verdagte verdwyn dan en kom nooit weer terug nie.

Die polisie het enigiemand wat op soortgelyke wyse deurgeloop het aangemoedig om ao. Amos Mlangeni by 072 226 7318 of by 065 808 1202 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ES ·

Ek moes self meer as 4 keer vir my lisensie gaan omdat ek nie geslaag het a.g.v. belaglike redes hoekom ek “misluk” het op die pad of op die toetsbaan. Op gereelde geleenthede was ek genader deur mense wat my sou “help” om my lisense “wettig” te koop. Ek het dit selfs een keer oorweeg maar gelukkig het ek dit nie gedoen nie na ander lisensiekantore gegaan en uiteindelik by Heidelberg my lisensie gekry.

Mense wat hulself aan die bogenoemde blootstel, kan ook krimineel vervolg word want jy bekom jou lisensie onwetting deur om iemand geld te betaal om die proses te “vergemaklik”.

Gaan eerder deur die pyn om dit wettig te bekom, want voor jy jou ogies uitvee dan word jy saam met daardie skelms gevang en aangekla.

Ekt 4 keer gegaan vir my bestuurslisensie ·

Ekt 4 keer gegaan. Die derde keer wat ek dieselfde ou gekry het, get ek in n pothole op die grond pad die kar agtertoe gerol, net buite die toetsyard se hek. Na hy agter in my I.D gekyk het, het hy my gedwing om uit die kar te klim, die kar net daar te los, en saam met hom kantoor toe te loop. Die gesprek het so verloop
Verkeerspolisie man: weet jy hoekom jy druip. Dis niu terwyl hy weer in my I.D kyk. Ek: ja, so ge my vorm dat ek kan gaan, asseblief.
Verkeerspolisie: nou vertel my hoekom.
So toe sê ek want jy soek geld. En loop. My bestuurs instrukteur is my vorm in die kantoor gegee deur die man.
Toe kry ek die enigste ander ou op die dorp. Ekt my lisensie gekry. Tenspyte van n foutiewe handbriek wat veroorsaak het dat ek terug rol op die opdraand. Hy’t my laat uitklim, n slukkie van sy water gegee en gesê gebruik jou voetbriek. Dit was nie jou skuld. En ja daar was baie opsies om lusensie te koop en te minste 3 keer wat ek die speedcop kon bribe.

Geregtigheid ·

Die probleem begin by die toetsbeamptes wat oneerlik is deur wit mense te laat druip vir die grap. Uit despiraatheid word hulle forseer om vals lisensies te kry teen ‘n buitesporige koste.
Begin om van oneerlike toetsbeamptes ontslae te raak en slegs daarna sal bevoegde bestuurders wettiglike lisensie kry wat op hulle beurt ons paaie veilig maak.

Wollie ·

Ek sien nie die probleem met lisensie koop nie, almal ry in elk geval hoe hulle wil die oomblik wat daai papier in hul hande is, wees eerlik, hoeveel van julle staan nog doodstil by n stopstraat, en as jy wel doen, doen nog die 7-8 kykpunte, en/of doen parallel parkering, met elke tweede kar wat n stamp het ten spyte van die “parking-assist” ? Hulle moet liewer kyk of hoe bevoegd jy is wanneer jy op n hoofweg 120 kmh ry en weet hoe n flikkerlig werk, nie 30kmh in die woonbuurt af nie..

Okay, n vragie ·

So volgende gaan jy sê dis okay om n bank / winkel te beroof want jy is werkloos sonder geld en honger. Jry n lewe! Verkeerd is verkeerd en lisenies koop is korrup verby.

Peet Schabort ·

Na agt dae met my leerlinglisensie is my volwaardige lisensie uitgereik op ‘n klein plattelandse dorpie. Dis nou reeds 58 jaar later en ek is met groot genade nog ongeluksvry. Hieruit kan dus afgelei word dat daar baie ‘ampers’ was veroorsaak deur roekelose andere. Die grootste probleem is dat verkeerstekens of weg is of verskuil is. Ek het ‘n K53-handleiding gekoop om te sien wat ek mis, maar wat ‘n sirkus want dus eerder ‘n ‘handlyding’. Om persone op die pad los te laat met slegs die kennis van hierdie teoretiese- en onvolledige K53 is ‘n skande. Sommer vir die lekker het ek in Januarie BMW se gevorderde bestuurskursus gaan aflê op Zwartkops. Op 75 jaar oud was die M3 BMW ‘n plesier met ‘n topspoed van 180km/h (vir my) en baanrondte teen gemiddeld 104km/h. My kleinkinders sal beslis na die ontvangs van hulle karige ‘K53-lisensie’ hierdie kursus gaan doen. Selfs ek kon leer uit, byv. stopafstand, wat bestuursvemoë behels. Die glybaan om beheer te behou oor jou voertuig is ook die moeite werd. Om korrek te bestuur is opsigself ‘n wetenskap soos gedurende die BMW-lesings oorgedra. Gaan jaag op ‘n renbaan en bly weg van publieke paaie. Immers sal jy dan sien hoe ‘goed’ jy is.

Grap ·

Slagoffers ag nee moenie vir my kom nonsens vertel nie jy moet mos weet dit is `n bedrogspul as jy so baie moet betaal en die res betaal minder en nog na ure moet bly om die lisensie te kry, o my goodness, daar is nie pille vir domheid en sluheid nie, maar dis mos makliker om net te kry as om te werk en te baklei vir dit wat hulle wil he. Hulle moet saam die beskuldigdes opgesluit word vir bedrog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.