Twee in hof oor Thabo Bester-sage

Zolile Sekeleni (links) en Senohe Matsoara (regs). (Foto: Becker Semela/GroundUp)

Deur Becker Semela, GroundUp

ʼn Voormalige bewaarder van die Mangaung-gevangenis en die pa van die dokter wat glo die reeksverkragter en veroordeelde moordenaar Thabo Bester help ontsnap het, het Dinsdag in die hof verskyn.

Zolile Sekeleni (65), die pa van Bester se vriendin dr. Nandipha Magudumana, en Senohe Matsoara (39) het vlugtig in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn vir hulle beweerde betrokkenheid by die saak.

Aanklagte van moord, dwarsboming van die gereg en medepligtigheid staar die twee beskuldigdes in die gesig. Sekeleni staan ook tereg op aanklagte van bedrog, terwyl Matsoara van brandstigting verdink word.

Die saak is tot 17 April uitgestel wanneer Sekeleni en Matsoara aansoek om borgtog kan doen.

Die staatsaanklaer in die saak het daarop aangedring dat die verdagtes apart aangehou word tot hulle volgende verskyning. Die landdros het die versoek toegestaan en Sekeleni is na die Bainsvlei-polisiestasie gevat, terwyl Matsoara by die Brandfort- korrektiewe sentrum aangehou word.

Luidens die amptelike klagstaat word die beskuldigdes daarvan aangekla dat hulle ʼn persoon in Maart verlede jaar in die Mangaung-distrik van die Vrystaat vermoor het.

Bester het in Mei verlede jaar uit die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein ontsnap, wat tot onlangs jare lank deur die multinasionale veiligheidsmaatskappy G4S bestuur is. Hoewel daar aanvanklik gedink is dat hy in ʼn brand in sy sel omgekom het, het dit intussen aan die lig gekom dat die liggaam van ʼn onbekende man by die sel ingebring en aan die brand gesteek is. Dit terwyl Bester ontsnap het.

GroundUp verneem dat Matsoara, destyds ʼn werknemer van G4S, die aand van Bester se ontsnapping in sy selblok aan diens was. Hy is kort ná die brand geskors en in September verlede jaar die trekpas gegee.

Dae ná die brand het Magudumana glo probeer om die verkoolde liggaam van die onbekende man by ʼn lykshuis af te haal. Sy het glo aangevoer dat sy in ʼn romantiese verhouding met die oorledene was – wat toe na verneem Bester was. Die polisie het egter op die liggaam beslag gelê, waarna sy die hof genader en beweer het dat sy Bester se vrou is. Sy het ʼn beëdigde verklaring van haar pa – Sekeleni – ingedien as bewys van die lobola-onderhandelinge tussen hom en Bester.

Magudumana het in ʼn beëdigde verklaring gesê haar pa en ʼn assistent het tien dae ná Bester se oënskynlike dood die liggaam by ʼn lykshuis in Soweto afgehaal.

Maroela Media het vroeër berig dat Matsoara Saterdag by sy huis in Bloemfontein in hegtenis geneem is en Sekeleni die vorige dag by sy huis in Port Edward in KwaZulu-Natal.

Bester, sy vriendin Magudumana en ʼn ongeïdentifiseerde Mosambiekse burger is reeds Vrydagaand in Tanzanië vasgetrek.

ʼn Afvaardiging wat deur die polisie se adjunk- nasionale kommissaris, lt.genl. Tebello Mosikili, gelei word, het intussen in Arusha in Tanzanië aangekom om die uitleweringsproses met die land se amptenare te bespreek.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek begin twyfel of die Thabo Bester wat gevang is wel Thabo Bester is. Dalk net ‘n gewone dude wat gebruik is vir misleiding. Die regte Thabo Bester het seker al die Arséne Lupin boeke gelees.

Suzette ·

Lyk nie of hulle enigsins bekommerd is nie…. weet seker hulle hoef nie want dit is SA. Hier kom jy letterlik weg met moord.

Delia ·

Hoe werk n mens se mop dat jy die goed uitdink. Ai, Madala, is dit die geld werd. Jy moes n voorbeeld wees vir die jeug

Nikolaas ·

Great.
Doen dit nou met die Guptas en die Julie ‘21 plunderaars.

SomeOne ·

wat help dit hulle doen aansoek vir borg, dit gaan by die een oor in en die ander uit, en vind niks tussenin nie

Lillian ·

Geld was belangriker as sy dogter se lewe. Dié Thabo is ‘n moordenaar en hy help hom ontsnap en laat toe dat sy dogter ‘n huis met hom deel…. Waar is mense se gesonde verstand deesdae?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.