Twee in hof vir Boksburg-pa se moord

Wayne Alberts

Wayne Alberts

Twee verdagtes het Woensdag in die Germiston-streekhof verskyn weens die moord op Wayne Alberts (32), ʼn pa van drie wat op Valentynsdag in Boksburg die laaste keer lewend gesien is.

Die verdagtes, Dorinda Ann Barnard (in haar 30’s) en haar kêrel, Edward Morton (50), staan tereg op aanklagte van moord, menseroof en roof nadat Alberts op 14 Februarie spoorloos op pad na sy ouers se huis in Boksburg verdwyn het. Hy is omstreeks 21:40 in Madleystraat in Hughes, Boksburg-Noord, die laaste keer gewaar. Sy bekommerde familie moes hom ná ʼn sewe weke lange soektog in die Sebokeng-lykhuis uitken. Sy liggaam is glo reeds op 15 Februarie daarheen geneem.

Leon van Lingen, Alberts se pa, het Donderdag aan Maroela Media gesê hulle het verneem dat Morton glo skuld erken het dat hy Alberts vermoor het. “Die man beweer die vrou is onskuldig. Die hof sal dus moet bewys of dit waar is.”

Barnard het Alberts glo die aand van sy verdwyning na haar woonstel gelok waar Morton hom ingewag het. Morton het hom glo met ʼn pyp aangerand, beroof, vasgebind en na ʼn opgaardam in Kliprivier geneem waar hy as dood agtergelaat is.

“Hy het glo ook aan die polisie erken dat hy Wayne se goue ketting en trouring aan ʼn Nigeriër verkoop het,” het Van Lingen bygevoeg.

Die verdagtes moet na verwagting weer op 15 April in die hof verskyn. Die saak sal dan glo na die hooggeregshof verwys word.

Maroela Media het vroeër berig drie mense (Barnard, Morton en ʼn verdagte wat steeds soek is) is twee dae ná Alberts se verdwyning in Sunnyside, Pretoria, in die motor waarmee Alberts gery het, aangekeer. Van Lingen het destyds gesê daar was ʼn vuurwapen, dwelms en elektriese kabels in die silwer BMW. Die motor is in Van Lingen se naam geregistreer.

Die drie verdagtes is in hegtenis geneem en aangekla van die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Hulle het op 18 Februarie in die hof verskyn, maar die saak is teruggetrek vir verdere ondersoek en die verdagtes daarna vrygelaat. Die verdagtes het glo later teruggekeer na die polisie en die motor teruggeëis. Barnard en Morton is eers aan die einde van Maart weens Alberts se moord in hegtenis geneem.

Maroela Media het ook berig ʼn vreemde vrou het glo op 15 Februarie Alberts se selfoon beantwoord en aan Alberts se vrou gesê hy slaap. Die foon is daarna afgeskakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

anet ·

Dit is so wreed en barbaars om ‘n mens se lewe te neem, net om te steel omdat jy te lui is om te werk Wat van die drie kinders wat nou sonder ‘n pa moet groot word? Ek hoop julle vrot in die gevangenis

Kerry ·

I read somewhere else that this woman is suspected of poisoning her ex boyfriend – a policeman. Why, I ask, was she even out on the streets if she is suspected of murder. Is there an update following their second appearance in court today?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.