Twee in hof vir moord op advokaat

Adv. Pete Mihalik is op 30 Oktober 2018 voor sy kinders se skool doodgeskiet. Foto: ANA

Die twee mans wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op die bekende verdedigingsadvokaat Pete Mihalik, het Donderdagoggend in die Kaapse landdroshof verskyn.

Streng veiligheidsmaatreëls is by die hof gevolg en die hof is eers deursoek voor joernaliste en lede van die publiek toegang gegee is.

Sizwe Biyela (26) en Nkosinathi Khumalo (31) het vlugtig in die hof verskyn en is met haas terug na die aanhoudingselle geneem toe die verrigtinge verdaag is.

Hulle word aangekla van moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die staat voer aan die moord is met voorbedagte rade gepleeg en het die hof versoek om die twee beskuldigdes in aanhouding te plaas by die Seepunt-polisiestasie se aanhoudingselle aangesien hulle vermoedelik leed aangedoen kan word indien hulle in die Pollsmoor-gevangenis aangehou word.

Helena Booysen, staatsaanklaer, het aan die hof gesê die twee mans is van KwaZulu-Natal en dat een van die mans op borgtog uit was in ʼn ander ernstige saak toe Mihalik vermoor is.

Landdros Greg Jacobs het die beskuldigdes aangeraai om om regshulp aansoek te doen aangesien dit ʼn “baie ernstige saak” is en heel waarskynlik na die hooggeregshof oorgeplaas sal word.

Die motor waarin Mihalik doodgeskiet is. Foto: Armand Hough/ANA

Biyela het om regshulp aansoek gedoen terwyl Khumalo aangedui het hy wil ʼn prokureur aanstel, maar nog nie kans gehad het om dit te doen nie. Die saak is tot 8 November uitgestel.

Die staat voer in die klagstaat aan dat die beskuldigdes Mihalik met opset vermoor het deur hom in die kop te skiet en dat die misdaad “gepleeg is deur ʼn persoon, groep of sindikaat wat optree in die uitvoering of bevordering van ʼn gemeenskaplike doel of sameswering”.

Rakende die klag van poging tot moord voer die staat aan dat die beskuldigdes met opset Mihalik se seun probeer vermoor het deur hom in die gesig of kop te skiet en sodoende hom ernstig gewond het.

Die twee beskuldigdes is Dinsdag kort ná die moord in hegtenis geneem. Mihalik, wat gereeld berugte karakters uit die Kaapse misdaadonderwêreld verteenwoordig het, is vroeg die oggend buite sy seun en 16-jarige dogter se private skool, Reddam House, in Cavalcadeweg, Groenpunt, doodgeskiet.

Mihalik se vrou het aan depressie gely en drie jaar terug haar eie lewe geneem. Volgens berigte het sy ma en suster ook hul eie lewe geneem. Mihalik was volgens berigte ten tyde van sy dood in ʼn verhouding met Tasmin Tobitt, eksvrou van die oud-Springbokrugbyspeler, Percy Montgomery.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

GM ·

Weereens ‘n geval van ‘daar word gevrees vir die krimineel se lewe’, maar het die krimineel vir een oomblik gedink aan die slagoffer, en sy kinders se vrese. Hoe verwerk ‘n kind so iets?

Alida ·

Hy het sy werk gedoen. Drs los nie misdadigers om dood te gaan nie.

HARTSEER ·

Ek dink as ek in vandag se lewe getroud was met enige regsadviseur sal ek ook seker dink aan selfmoord. Dis sekerlik nie maklik nie want hul kry dreigemente en oproepe en hul kinders/gesin se lewens is altyd in gevaar. Jy kan nooit jouself wees nie want jy weet nie wie hou jou dop nie. Eintlik tragies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.