Twee in hof vir ouma se ontvoering

Denise Bartlett (Foto: Facebook)

Een van die twee verdagtes wat Maandag in die Sterkstroom-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn het in verband met die ontvoering van die 71-jarige Denise Bartlett, is ʼn oudpolisieman.

Kapt. Namhla Mdleleni, woordvoerder van die polisie, het gesê Raymond Fillis (37) en Marlon Cornelius (45) het Maandag in ʼn volgepakte hof verskyn op aanklag van ontvoering en roof.

“Hul saak is uitgestel tot volgende Maandag wanneer hulle om borgtog aansoek sal doen. Hulle bly in aanhouding tot dan,” het Mdleleni gesê.

Sy het aan Maroela Media bevestig Cornelius is ʼn voormalige adjudantoffisier in die honde-eenheid van die Queenstown-polisie.

Maroela Media het vroeër berig Mdleleni, wat vroeër nie meer inligting oor Bartlett se ontvoering aan die media bekend wou maak nie, het Maandag gesê die polisie het ʼn “deurbraak” gemaak nadat Bartlett Vrydag in een van die verdagtes se huise gevind is.

“Die polisie het leidrade opgevolg en op die huis van een van die verdagtes toegeslaan. Bartlett is in die huis gevind waar sy met toue vasgebind en aangehou is.”

Volgens Mdleleni is Bartlett glo van Dinsdagaand af in die huis aangehou. Sy het egter geen ander beserings opgedoen nie. “Die familie het in dié moeilike tyd privaatheid versoek, maar die polisie kan wel bevestig dat Bartlett geen ander beserings opgedoen het buiten die skaaf- en skuurplekke van die tou waarmee sy vasgebind was nie.”

Die verdagtes het glo kontant, kruideniersware, elektroniese ware en huishoudelike items in die rooftog gesteel. Mdleleni het gesê Bartlett se Chevrolet Spark, wat gesteel is tydens die ontvoering, maar Woensdag deur die polisie in Queenstown opgespoor is, is aan die familie terugbesorg.

Mdleleni het gesê die polisie ondersoek ook bewerings dat die verdagtes ʼn losprys van Bartlett se familie geëis het.

Bartlett se dogter, Lindy, het vroeër aan Maroela Media vertel dat Denise saam met ʼn kleindogter en dié se vriendin tuis was toe die verdagtes toegeslaan het. “My ma [Denise], my dogter en haar vriendin was vir ongeveer 20 minute tuis toe hulle ʼn man onder die tafel opgemerk het. Toe die man sien dat hulle hom gewaar, het hy onder die tafel uitgespring en hulle met ʼn wapen aangehou,” sê sy.

Lindy en een van haar ander dogters het later die aand by haar ma se huis aangekom en is deur nog ʼn gewapende man oorval. Volgens haar het die man haar en haar dogter met ʼn wapen tot in die badkamer gedwing. Hulle kon later daarin slaag om die polisie vanuit die badkamer te bel en het net betyds uit die badkamer ontsnap om te sien hoe Bartlett in die kattebak van ʼn motor ingeboender en ontvoer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nossob ·

Wat is die verskil tussen iemand in n doodskis te laat klim en iemand in n motor se bagasie bak te dwing? Dink laas genoemde is erger. Geen borg!!!!

Janosh ·

Die verskil vra jy? Daar’s nie ‘n video gemaak nie….

CL ·

Tannie Denise is vir my ‘n heldin! Vasberade om die 2 in die oë te kyk. Vatso!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.