Twee in Noordwes sterf weens listeriose

Dr. Magome Masike, LUR vir gesondheid in Noordwes. Foto: ANA

Twee mense in Noordwes het aan listeriose gesterf, het dr. Magome Masike, LUR vir gesondheid in die provinsie, Donderdag gesê.

“Ons het een pasiënt in Klerksdorp verloor en nog een in Rustenburg. Nog ʼn persoon is in ʼn hospitaal in Klerksdorp opgeneem. Listeriose is ʼn siekte wat nog altyd daar was. Dit reageer op gewone medisyne, dit is maklik om te behandel en jy kan dit uitwis met penisillien. Die uitdaging is om dit te diagnoseer,” het Masike verduidelik.

Hy het gesê listeriose lei tot simptome soortgelyk aan verkoue en wanneer dit erger raak, kan die simptome van gastro-enteritis voorkom.

“Enigiemand kan diarree en naarheid ervaar, so jy moet die regte toets doen,” het hy bygevoeg.

Listeriose affekteer grootliks swanger vroue, pasgebore babas, bejaardes en volwassenes wie se immuunstelsel onderdruk is. Gesonde volwassenes en kinders kan ook deur die siekte geraak word, maar word selde ernstig siek. Babas kan met listeriose gebore word indien hulle ma besmette voedsel tydens die swangerskap geëet het.

Masike het gesê slegs drie gevalle van listeriose is tot dusver in die provinsie aangemeld. Hy het met verslaggewers by Hartbeespoortdam naby Brits gepraat na afloop van die provinsiale uitvoerende raad se vergadering wat Woensdag gehou is.

Die raad het tydens die vergadering die bou van ʼn verkeersopleidingskollege in die provinsie goedgekeur. Die grootte en koste van die kollege moet nog vasgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Hierdie Listeriose is ‘n tydbom. Vuil kos in smerige eetplekke en winkels en ons hoor net so nou en dan van nog ‘n sterfte…. en nog een. Ons moet bang word… baie bang, want steeds word geen gesondheidsinspekteurs aangestel nie. Waarvoor wag hulle?

Zelda Taljaard ·

Hi ek net graag uitvind is dit moontlik dat ek Listeriose kan opdoen met riool water wat in my woonstel opstoot? Ek trek nou op dag3 en die eienaar van die woonstel is in kennis gestel maar sy loodgieters kan nie die probleem nou uitsorteer nie hille beplan 3 dae vooeuit so besig is hulle. Ek kom in die aande tuis en moet fisies elke venster ( en ek het net 5 en die voordeur )oop laat net om die stank uit te kry my ander probleem is dat die waskamer waar die drein is… REG langsaan my kombuis is… So ek moet elke aand vir 3 aande nou al ander mense se ontlasting in my woonstel skoonmaak en die plek probeer ontkiem …. En dan spoel iemand n toilet of tap badwater en die hele proses van skoon maak begin net van voor af. Kan iemand my help met my regte?

Liesl ·

Zelda, kontak jou naaste Huurtribunaal (Rental Housing Tribunal). Dalk sal hulle jou gou help as jy die dringendheid van die situasie verduidelik?

Alida ·

Mense koop vleis by enige plek waar dit verkoop word om te spaar. Dit is vieslik as jy kyk hoe word daar met vleis en ander kos gewerk wat sommer so verkoop word. Die slagpale moet ondersoek word. Gesondheidsinspekteurs is broodnodig. Aan die ander kant word hulle weer omgekoop en totaal en al onbevoeg vir die werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.