Twee in raaiselagtige omstandighede geskiet

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Die Oos-Kaapse polisie het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om hulle by te staan met inligting nadat twee mans Sondag in die vroeë oggendure onder raaiselagtige omstandighede in Port Elizabeth geskiet is.

Kol. Priscilla Naidu, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die bloedspoor het om 01:30 begin toe ʼn 28-jarige man verskeie kere buite ʼn kuierplek in Walmer geskiet is.

“Die man beweer hy was in ʼn besige kuierplek toe onbekende verdagtes hom skielik oorval en op die grond neergegooi het. Die verdagtes het hom aangerand en na buite gesleep. Hulle het die man verskeie kere geskiet voor hulle van die toneel weggehardloop het,” het Naidu gesê.

Die slagoffer is na ʼn hospitaal geneem met koeëlwonde aan sy skouer, boud, bobeen en bors.

“Kort daarna, nie te ver van die kuierplek af nie, is ʼn 35-jarige man omstreeks 01:45 aangeval waar hy in sy BMW gesit het. Die man, Enoch Mpfunde van die Sakhasonke-nedersetting, is geskiet. Hy het probeer wegry, maar sy motor het sowat 50 meter verder tot stilstand gekom, waarna hy dood in sy motor aangetref is.”

Naidu het gesê die motief vir die skietvoorvalle is onbekend.

“Die polisie ondersoek die moontlikheid of die twee voorvalle met mekaar verbind kan word. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en ʼn saak van poging tot moord,” het sy gesê.

Enigiemand met inligting wat die polisie met hul ondersoek kan bystaan, word versoek om die Walmer-polisie by 041 581 1496 of 041 509 4007 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ellisras ·

Dalk het dit iets met Bird Island en Magnus te doen. Die manne wou dalk nie saam “speel” nie.

TLC ·

Ellisras
Ek wou nog iets sê maar toe vat jy die wind uit my seile
Regtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.