Twee jaar ná moord op seun: ‘Ons hoop vir aanvaarding’   

Deon de Bruyn.

Die verhoor van die sewe verdagtes wat ná die moord op Deon de Bruyn (25), ʼn boer van Komatipoort in Mpumalanga, in hegtenis geneem is, begin Maandag in die hooggeregshof in Nelspruit.

“Ons is baie verlig dat die saak uiteindelik begin. Hopelik kan ʼn mens dan gesond word en begin aanbeweeg,” sê Susan de Bruyn, Deon se ma.

Deon is op 17 Junie op ʼn plaas naby Komatipoort doodgeskiet. Vyf beskuldigdes is kort ná die voorval in en om Tonga vasgetrek. Die ander twee verdagtes is sowat drie maande later vasgetrek. Die verdagtes is almal borgtog geweier en is sedertdien in aanhouding.

De Bruyn sal sonder haar man, Deon sr., die verhoor bywoon aangesien hy steeds in Guinee in Wes-Afrika, waar hy tans werk, vasgekeer is weens die afsonderingsregulasies.

Die sewe verdagtes, Derrick Makamo, Rawul Mhlanga, Sifiso Madonsela, Solomon Msimango, Oscar Chauke, Hendry Manonga en Fanie Mkhabela, word onder meer van moord en poging tot moord aangekla.

Twee jaar ná haar seun se dood sukkel De Bruyn steeds om die gebeure te probeer verwerk. “Vanuit ʼn ma se oogpunt verander ʼn mens se lewe drasties. ʼn Stuk van jou lewe is weggeruk en die verlange hou nooit op nie.”

Deon se ouers, Deon sr. en Susan.

Die De Bruyns woon steeds op die plaas waar die aanval plaasgevind het. Deon het saam met Estelle Jansen, wat vir hom soos ʼn “tweede ma” was, op die plaas Simonsvlei met suikerriet, mango’s en groente geboer. Deon is tydens die aanval net bo die hart geskiet en Estelle is drie keer geskiet. Deon is op die toneel dood.

“Ek dink om steeds hier te bly is ʼn manier om dit te hanteer. Ek sien my kind orals in Komatipoort raak, maak nie saak waar ek gaan nie.”

Volgens De Bruyn word hulle geraak deur al die berigte oor plaasaanvalle en -moorde. “Ek hoop dit sal makliker wees om aanvaarding te kry as die hofsaak verby is. Ons sukkel om dit te aanvaar. Party dae gaan dit beter en kan jy daarmee saamleef maar ander dae is dit basies ondraaglik. Jy maak ʼn kind vir 25 jaar groot en dan vat hulle hom.”

Die verhoor sou reeds in April begin het, maar is toe uitgestel. Die saak is vir ʼn duur van langer as twee weke op die hofrol geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Prikkie ·

Maar net omdat die president nie daaroor praat nie beteken nie hy is nie bekommerd oor die plaasmoorde en aanvalle nie. Wat ‘n siekgrap!

Die Kardinaal ·

Vreemd dat die president baie uitgesproke is oor ander kwessies wat hom bekommer.

Gerra ·

Ek onthou vir Deon en dit was n skok vir ons almal om te moes hoor dat een van ons oud-studente so sonder rede vermoor is. Mag julle as gesin en familie deur hierdie tyd gedra word deur gebede en God se versorgende hand. Mag reg en geregtigheid werklik seevier in hierdie saak. Sterkte vir julle en ook vir elke gesin wat presies deur dieselfde verlies en seer gaan!

Blikkantien ·

Ek wonder hoeveel blanke kriminele is betrokke by plaasaanvalle en -moorde…

Rod ·

Hulle sal n paar jaar in tronk wees, waartydens hul slagoffer se familie vir hul moet sorg deur belasting, dan is hul uit om verder te moor. Waar is dit geregverdig?

Blomme ·

So hartverskeurend om ń geliefde op so wrede en sinnelose wyse te verloor. Mag die skuldiges hul verdiende loon ontvang en mag die familie van die oorledene vrede vind en sy nagedagtenis koester.

christo ·

Geen SA universiteit sal navorsing doen om te bepaal of die aanvalle ras gemotiveerd is of nie. Studies en die data wat deur Afriforum , die TLU en ander landbou-organisasies word altyd betwis omdat díe data, volgens die regering , slegs Afrikaanse belangegroepe verteenwoordig. Dis natuurlik snert.
Meeste beamptes weet nie eers hoe werk die SAPD se eie sisteem om sake te registreer nie. Byvoorbeeld: As jy aangehou word met ‘n mes of ander wapen en nét jou beursie gevat word, word saak aangeteken as ‘ a cash in transit ‘ saak. Die beamptes wat die analises vir misdaadintelligensie doen, het nie tyd om deur elke saak te lees nie, aangesien daar ook spertye is.
So dis ‘n totale ( en die moet jy jouself uitdink).
Die databasis van Afriforum en ander organisasies is dus meer betroubaar aangesien die inligting direk van die landbougemeenskap ingevorder word.
Die President is iemand wat sy deuntjie stel na behoefte van die gehoor en is gewoonlik baie vaag. Moenie wonderwerke ANC verwag nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.