Twee jaar ná weerlig tref: ‘Dit kon baie erger gewees het’

Dylan van Wyk wys sy prys wat hy vir sy durf onder moeilike omstandighede verower het. (Foto: Verskaf)

Dylan van Wyk van Potchefstroom se hart het gaan staan die dag in 2017 toe weerlig hom en ’n maat by die Laerskool Bailliepark op dié dorp getref het. Hy het weens die skok sy sig tydelik verloor en aan korttermyn geheueverlies gely.

Dit is nou twee jaar later. Vandag is Dylan 12 jaar oud en ’n “gesonde, stout amper-tiener,” het sy ma, Marilise van Wyk, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Van Wyk sê Dylan het geen fisieke letsels ná die voorval oorgehou nie, behalwe dat hy deesdae ’n bril dra.

“Dit kon baie erger gewees het,” het sy gesê.

Volgens haar het Dylan nou ’n groot vrees vir weerlig. Soms klouter hy selfs onder ’n tafel in wanneer weerlig slaan. Hy praat ook nie graag oor die voorval nie en het ’n skooljaar herhaal omdat hy gesukkel het om te konsentreer.

“Hy het sedertdien van skool verander en floreer vanjaar,” het sy ma gesê.

Die skool het hom boonop vereer met ’n prys vir sy durf onder moeilike omstandighede.

“Hy is ’n liefdevolle kind wat almal wil help en liefde gee. ’n Mens kan nie dink dis al twee jaar gelede nie.”

Dylan van Wyk. Foto: Verskaf.

Maroela Media het vroeër berig Dylan en Ethan Jacobs, toé 11 jaar oud, het die betrokke dag in November 2017 van ʼn klaskamer na die naskoolsentrum by die skool gestap. Ethan het tot by ʼn boom gestap en Dylan wou net terughardloop toe die weerlig slaan.

Ethan het “basies dood neergeslaan”, het Aletta Myburgh, sy ma, destyds vertel. Die onderwysers het kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op hom toegepas waarna hy na ’n hospitaal gehaas is.

Van Wyk sê sover sy weet het Ethan ook volkome herstel.

Nadat Dylan van skool verander het, het die twee maats kontak verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AW ·

Alles in ons Lewe is net Genade !!

Bid Jou God sê Rykste Seën Toe.

Mag Jy Van Krag Tot Krag Gaan In Jou Lewe.

Maria ·

Tannie baie baie trots op jou. Onderwyser klink my sy lewe gered het moet ook eerbewys en dank daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.