Twee jong mense vandag gegroet

Hannah Cornelius, Jaco Fourie. Foto’s Verskaf

Twee jong mense word vandag [Vrydag] in twee afsonderlike stede ter ruste gelê – een het gesterf aan die hand van misdaad en die ander in ʼn motorfietsongeluk.

Hannah Cornelius (21), die tweedejaar BA-student aan die Universiteit Stellenbosch wat vroeg Saterdagoggend in ʼn kapingsvoorval ontvoer en vermoor is, se gedenkdiens vind om 11:00 in Vishoek plaas.

Cornelius en ʼn studentevriend wat teologie studeer het Vrydagaand in Stellenbosch rondgery in die ou blou VW Golfie wat haar 91-jarige ouma vir Cornelius gegee het. Hulle is vermoedelik vroeg Saterdagoggend ontvoer. Die vriend kon in ʼn stadium slaag om weg te kom en is in ʼn ernstige toestand met hoofbeserings na ʼn hospitaal geneem. Cornelius se liggaam is Saterdag omstreeks 08:30 naby ʼn bekende wynplaas op die Knorhoekpad buite Stellenbosch aangetref.

Vier mense is intussen in verband met die misdryf in hegtenis geneem en is in aanhouding. Hulle word aangekla van moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en motordiefstal.

Volgens Lali van Zuydam (27), ʼn niggie van Cornelius en ʼn familiewoordvoerder, het haar niggie in Scarborough in die Wes-Kaap naby Vishoek grootgeword. Sy het in 2014 aan die private skool Reddam House met sewe onderskeidings gematrikuleer.

Cornelius is die kleindogter van prof. Pieter de Villiers, komponis van onder meer die “Sewe Boerneefliedjies” wat Mimi Coertse gereeld gesing het. “Van al ons kleinkinders het sy die meeste van sy talent geërf en sy was op pad om haar hoogste kwalifikasie in klavier te verwerf – op een van my oupa se klaviere wat in haar ouerhuis staan.”

Van Zuydam sal haar niggie onthou as iemand wat nooit sleg sou doen aan mense nie en baie lief was vir diere, veral katte. In van Zuydam se woorde, was sy perfek.

“Sy het baie drome gehad en het beplan om miskien ʼn joernalis te word. Sy was ʼn baie goeie skrywer en kon gedigte skryf nog voor sy kon lees. Sy was ʼn baie diep mens, baie spontaan en kreatief. Sy was ook ʼn model maar glad nie hoogmoedig nie.”

Sy laat haar ouers, Willem Cornelius (56), die hooflanddros van Simonstad, en Anna Cornelius (55), ʼn kriminele regsprokureur, jonger broer Andries (18), ouma Eleanor de Villiers (91) en verskeie ooms, tannies, nefies en niggies agter.

In Pretoria word Jaco Fourie (17), ʼn matrikulant aan Hoërskool Garsfontein in die ooste van die stad, om 10:30 vanuit die Lux Mundi-kerk in Garsfontein ter ruste gelê.

Fourie is verlede Vrydag omstreeks 13:00 naby die aansluiting van Serenestraat en Kommetjiesingel in Garsfontein in ʼn motorfietsongeluk dood. Hy het vermoedelik beheer oor die motorfiets verloor en teen ʼn boom langs die pad gebots. Die Garsfontein-polisie is besig met ʼn geregtelike doodsondersoek.

Leerders van Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Menlopark het Saterdag voordat hulle mekaar vir die Stadsbeker die stryd aangesê het, ʼn minuut van stilte vir Fourie gehou. Die Garsies-span het hul harte uitgespeel en Menlopark met 66-21 geklop.

Leon Bantjes, hoof van die Hoërskool Garsfontein, het aan Maroela Media Fourie gesê Fourie het goed op alle vlakke presteer – akademie én sport. “Hy het voluit gelewe en was veral lief vir CrossFit. Hy was vriendelik, borrelend en het altyd geglimlag, net soos op sy skoolfoto gesien kan word,” het Bantjes gesê.

Bantjes het gesê Jaco was baie gewild onder die matrieks, sy vriende en onderwysers. “Ons kon veral die laaste paar dae sien hoe diep hy in mense se harte ingekruip het.”

Bantjes het namens die skool sy innige meegevoel aan Jaco se ouers, Willie en Judy Fourie van Garsfontein, en al sy vriende betuig en gesê die skool staan die ouers by in hierdie moeilike tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Alida ·

My hart bloei vir die ouers. Mens kom seker nooit daaroor nie. Om ‘n kind te verloor aan die hand van misdadigers is die ergste seer waaraan jy kan dink. Baie sterkte aan beide families.

Heleen ·

Dis is so hartseer…my hart bloei vir hierdie 2 pragtige jongmense se ouers, familie en vriende..

Elize ·

Innnige simpatie en baie baie sterkte aan hierdie twee families . Eks ook onlangs hierdeur. …. Baie baie sterkte veral ook vir Hannah se ouma.

Uvonka ·

Ek huil saam met die twee gesinne. Woorde van vertroosting is min. Baie sterkte, mag julle al die krag van Bo kry.

Jakalas ·

Selfde hierso. Soos ek deur lees is dit maar moeilik om die trane te stop vir die pyn wat hierdie 2 families nou beleef.

Lee ·

Dis so hartseer vir al die ouers en familie van die 2 pragtige kinders. Rus in Vrede Hannah en Jaco. Die Here het sy twee mooiste Engele kom haal xx

al ·

Dis hartseer om 2 sulke pragtige jong mense te sien, wie se lewe nog ñ roosknop was, voor hul gepluk is.
My hart bloei vir die families en geliefdes in hierdie donker, rou tydperk.

Lizette Hugo ·

Ook my innigste meegevoel met haar ouers en familie… dis ‘n groot seer, en so onnodig. My opregte meegevoel.

Santie ·

My hart is seer oor hierdie pragtige jongmense wat voortydig gesterf het. Arme ouers. Vir die seun se ouers kan mens dalk nog sê dit was God se wil, Dit was ‘n ongeluk. Maar wat sê jy vir hierdie meisie se ouers en klein dogtertjies en seuntjies? God se wil is nié dat kinders, jong mense, …enige mense,…. verkrag en vermoor word nie. Wit swart of bruin, Indier…. Ek is woendend vir hierdie land en sy gemors, skuim van die aarde, wat buite rondloop en moor soos hulle wil en hulle gaan nét tronk toe. Las vir die staat.

Ada ·

Hulle was te goed vir hierdie wereld. Sterkte aan albei families.
“Will not the deepening darkness
Brighten the glimmering star” uit Whispering Hope.
Dit is al wat ek kan dink as trooswoorde want daar is nie trooswoorde nie.

hartseer ·

My hart is so seer vir julle as ouers, en dit bring soveel herringeringe terug na my toe…..dis nou 12 jaar sedert my dogter oorlede is in ‘n motorongeluk en mens kom nie oor dit nie….dis hel en mens waar altyd hoekom en waarom maar ons mag nie vra nie, sterkte aan die ouers en familie, en julle 2 pratige jongmense rus saggies by Jesus se voete….. julle is veilig en ontsla van hierdie vieslike wrede lewe op aarde……

J ·

Ag Here hou asb hierdie 2 kinders se ouers styf vas met U arms. Gee vir hulle vrede en berusting asb Here. Hulle pyn moet onbeskryfik groot wees. Ag Here ons weet hulle is by U. Maar die mense wat agterbly maak op U staat om hul pyn en verlange te verlig laat U lig op hulle skyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.