Twee Kaapse polisiebeamptes geskiet

Argieffoto bloot ter illustrasie.

Die Stad Kaapstad het nou ’n beloning van R10 000 uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van diegene betrokke by aanvalle op onder meer Kaapse polisiebeamptes

Dié stap volg nadat twee polisiekonstabels Vrydagaand op pad huis toe in Khayelitsha geskiet is. Die konstabels, onderskeidelik 29 en 30 jaar oud, was nié aan diens nie toe hulle gisteraand omstreeks 20:30 in Ikhwezi Park gewond is.

Die aanval kom te midde van grootskaalse onrus en geweld in Nyanga.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die twee polisiebeamptes het in ’n gemerkte polisievoertuig by ’n verkeerslig op die hoek van Swartklip- en Japta K Masemoleweg stilgehou toe daar skote op dié staatsvoertuig afgevuur is.

Albei konstabels is tydens die skietery gewond en na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling.

’n Saak van dubbele poging tot moord is sedertdien by die polisiestasie in Khayelitsha aanhangig gemaak.

Van Wyk sê die polisie het sedert die skietery ’n 72 uur-aksieplan geaktiveer en doen nou ʼn beroep op lede van die publiek om na vore te kom in ’n poging om die verdagtes te identifiseer.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê die metro is bewus van bewerings dat persone wat verband hou met die geweld in die vervoersektor geld insamel om die dienste van beweerde “huurmoordenaars” te bekom sodat hulle polisiebeamptes en ander wetstoepassingsowerhede kan teiken.

“Ons sal geen aanval op ons polisielede of wetstoepassingsowerhede duld nie,” sê Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.