Twee keer in een dag op boer geskiet

Die selfgemaakte vuurwapen wat gebruik is om op die boer te skiet (Foto: Drakenstein Farm Watch)

ʼn Geliefde vrugteboer van die Paarl-omgewing is twee keer op dieselfde dag deur ʼn groep vrugtediewe aangeval en daar is twee keer op hom geskiet.

Daan van Leeuwen Boomkamp, woordvoerder van Drakenstein Farm Watch, het aan Maroela Media gesê ʼn groep mans het Donderdag omstreeks 07:00 by die boord net buite sy huis opgedaag en die boer se veiligheidswagte teëgekom. Die wagte is aangestel om die vrugte te bewaar wat nog aan die bome hang – gereed om gepluk te word.

Die boer het vinnig reageer nadat hy op die radio geroep is, en die betreders het met ʼn selfgemaakte vuurwapen op hom gevuur. “Die vuurwapen het egter ontplof toe hulle dit afgevuur het,” het Van Leeuwen Boomkamp verduidelik. Die groep het daarna sonder ʼn wapen van die toneel gevlug.

Drakenstein Farm Watch het ook op die noodroep reageer en het twee gewapende spanne uitgestuur om die boer by te staan. Die groep was egter reeds weg toe die spanne by die toneel opgedaag het. ʼn Saak van poging tot moord is by die polisie aangemeld.

“Die aanvallers het egter ʼn paar uur later teruggekeer en die wagte en plaaswerkers gewaarsku om die gebied te verlaat. Die boer het weer ʼn paar minute later opgedaag en minstens drie van die mans het hom genader. Een van die mans het op hom gevuur.”

Nie die boer of sy werkers is beseer tydens die skietery nie.

“Die Farm Watch het weer met ʼn paar spanne reageer en ons filliale van ADT het ook van die dorp af reageer,” het Van Leeuwen Boomkamp bygevoeg. “ʼn Spesiale hommeltuig is gebruik om vir die beamptes ʼn aanduiding te gee waarheen hulle moes gaan. Een van die ADT-beamptes het die verdagte eers per motor en daarna te voet agternagesit, maar het hom ongelukkig in die buurt verloor.”

Omstanders en een van die ADT-beamptes kon die verdagte identifiseer omdat hulle hom herken het van vorige inhegtenisnemings.

“Die Paarl-polisie het uiteindelik ná ʼn paar oproepe opgedaag en hulle het ʼn verklaring afgeneem. Die boer het nóg ʼn klag van poging tot moord aanhangig gemaak.”

Van Leeuwen Boomkamp het gesê die gebeure is ʼn nuwe raamwerk. “As mense bereid is om ʼn boer dood te maak vir ʼn sak vrugte, en agt mans gebruik om dit te kom steel, dan moet mens wonder wat aan die gang is. Hoe gaan die boer veilig wees op sy eie lande? Hoe gaan hy sy werkers veilig hou?”

Hy het gesê die werkers en veiligheidswagte is ook bekommerd oor hul eie veiligheid, aangesien daar ook op hulle geskiet is en hulle gedreig is.

“Dit is die eerste keer wat ons van weet dat daar twee keer op dieselfde dag op ʼn boer geskiet is vir ʼn paar sakkies vrugte en hy hoegenaamd nie beseer is nie. Ons hoop die Paarl-polisie sal ondersoek instel en die aanvallers aankeer sodat geregtigheid kan geskied.”

Van Leeuwen Boomkamp het gesê hulle weerhou die naam van die boer om seker te maak dat hy nie verder geteiken word nie. “Hy weet nie hoe hy sy vrou en kinders gaan beskerm nie. Hy weet nie of hy dalk met ʼn koeëlvaste baadjie op sy trekker moet rondry nie!” Hy het bygevoeg die boer is geliefd onder die plaaslike gemeenskap en sy werkers.

Hy het alle spanne van ADT, AC Rottweiler en die reaksiebeamptes van Farm Watch bedank.

Verena Hulme, distriksbestuurder van Kaapstad-Noord vir Fidelity ADT Security, het gesê beamptes is Donderdag na die toneel ontbied. “Ons het, saam met ons vennote van Drakenstein Farm Watch, gepoog om die verdagte aan te keer, maar hy het ongelukkig weggekom.

Volgens Hulme werk Fidelity ADT saam met Paarl-polisie om Donderdag se gebeure te ondersoek.

“Ons maan alle inwoners van die Paarl om waaksaam te wees en seker te maak dat hulle alle noodnommers byderhand het vir plaaslike buurtwagte, veiligheidsmaatskappye en wetstoepassers,” het sy bygevoeg.

Sers. Noyoliso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn saak van poging tot moord word ondersoek ná die skietery op ʼn plaas in die Paarl. Volgens haar het ongeveer 10 mans die plaas betree. “Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek. Geen beserings is aangemeld nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Cherokee ·

Dit klink nie asof die polisie gerapporteer is vir traagheid nie.

jan_alleman ·

die staat moet nou besluit wat hulle wil doen omtrent die probleem , want aan die een kant stuur hulle die boodskap uit dat witmense die grond gesteel het en dit beteken vir die eenvoudiges dat hulle maar boere mag doodmaak en hulle goed steel (dus die reg in eie hande neem) aan die ander kant word daar gese boer mag nie die reg in eie hande neem nie ?!
dit is soos om n oorlog te verklaar maar dan na geneva toe te hardloop en te huil as die vyand terugskiet ? die nonsens moet nou einde kry

Jacques ·

As jou grond betree word deur die gemors het jy geen keuse as om te aanvaar jou lewe en die van jou gesin word bedreig nie, verdedig jouself soos nodig (volgens die wet)!

Voorstel ·

Dalk hommeltuie in die vorm van doodskiste toegerus met kameras?

leon ·

Die steel van vrugte is ‘n groot problem. Moet asseblief nie vrugte langs die groot paaie by smouse koop nie. Bv. Grabouw, De Doorns.

Die vrugte is gesteel.

Yster ·

Maw dit is nie eers meer veilig om jou eie vrugte te oes nie. Wat as die boer homself verdedig het deur terug te skiet. Saps binne n minuut daar en o wee nog n doodskis vonnis deur net diewe af te skrik.

Wilma ·

Die kopers weet dai vruvte is gesteel. Dis kopers se skuld ook dat die diewe steel wan t hul weet hul verkoop gesteelde goed. Die arrogansie vani gemors om sommer op die plaas op te daag en dink hul besit iets. Te sleg om te werk. Makliker om te steel en sien buitendien kans om iemand te vermoor
Sies die sleg b…..s

marianne ·

Dank die Vader die Boer is nie besser nie, ons boere se lewens is nie veel werd nie, dis so frustreurend. My familie boer almal, ons is daagliks dankbaar ons het nie NOG ‘n lid verloor nie.
Die SAP het blykbaar nie lus vir werk nie. Die boere moet saam ‘n “sekuriteits mag” stig, en mekaar beskerm.

Honde ·

Kry baie honde, kwaai en baie, en leer hulle om net op een plek kos te eet en nie by die grensdraad te eet nie. Probleem opgelos.

DeWald ·

Wanneer gaan die Afrikaners wat al vir jare ly onder die gruwels van misdaad uiteindelik besluit ons trek nou die streep in die sand. Die polisie het al oor en oor bewys hulle staan koud teenoor die publiek. Ek het misdaad van huisroof tot ń gewapende roof op ń witvrou wat ek gehelp het en een van die boewe gearresteer het, beleef. Met albei hierdie insidente in Pretoria en Wellington kon die polisiemanne skaars skryf en was totaal onbevoeg om ń misdaad toneel by te woon. Ek moes self my verklarings skryf. Die dossiere is daar vir bewys. Ons betaal ons as af vir privaat beskerming terwyl oorgewig polisiemanne sonder om ń vinger te veroer elke maand ń vet pay trek. Daar moet gemobiliseer word op ń ander manier as wat tans die geval is. Indien die Kaapse boere met hul honderde trekkers en lorries op die Kaap se paaie toesak plus duisende privaat voertuie en die Kaap onder beleg plaas vir solank dit ookal gaan neem, sal die despote wat oor ons regeer kennis neem en so ook die internasionale gemeenskap. Dieselfde kan in Pretoria gedoen word.

Anoniem ·

As die aanvallers die wagte en werkers gewaarsku het om die gebied te verlaat was hulle nie daar vir ‘n paar sakkies vrugte nie! Hulle was daar om te moor!

Bekommerd ·

Niks is meer jou eie nie. Waag jy om jou eiendom en inkomste te verdeding, is jy in die moeilikheid en nie die oortreders nie. Goeie voorbeeld is die outjie van Brits/Mooinooi wat aangekla word van moord, maar daar is geen lyk tot op hede; net die oortreder se vriende se word – vir hoeveel dit mag werd wees. Hulle was ook erkende vrugtediewe. Sterkte aan al die boere en hul gesinne.

HPV ·

Veronica, sulke opgeleide honde is te koop in Suid Afrika. Destyds was hulle genoem “attack dogs”, vandag word hulle genoem “personal protection dogs” Hulle neem nie kos by vreemdes, en om vier van hulle, wat jou in volle vaart verwoed aanval,te skiet is letterlik onmoontlik.

Oplossing ·

Almal, lees asseblief die voorstelle oor honde hier. Dan help ons mense met n plan om honde te bekom.

Gys ·

Weet jy wat kos daai honde. N Bullet proof is goedkoper. Lyk na n tuisgeboude haelgeweer, Dankbaar die boer het nie seer gekry nie.

Ilse ·

“Geen beserings is aangemeld nie” skokkende reaksie vd Polisieman.

ans ·

Dis nie eers nodig om klaar opgeleide honde te koop nie. Jy kan hulle self leer. Toe ek ‘n kind was het ons so ‘n sypaadjie special gehad wat geweier het om te eet as dit nie een van die gesin was hom kos gegee het nie. Hy het selfs nie eers die kos in sy bak ge-eet as hy nie gesien het wie dit daarin gesit het nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.