Twee keer lewenslank vir plaasmoord op pa, seun

Eddie (links) saam met sy ouers, Pieter en Antionette (Foto: Verskaf)

Tshidiso Patrick Bochedi en Mojalefa Modise is Vrydag in die rondgaande hof in Welkom, Vrystaat, elkeen tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Pieter Hills (56) en sy seun, Eddie (26).

Regter Anthia Maria Ramos het die twee ook elkeen tot ʼn bykomende vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van huisbraak en poging tot huisroof met verswarende omstandighede.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Pieter is op 6 November 2020 op hul plaas by Hennenman op teregstellingswyse doodgeskiet en Eddie is in die nek geskiet nadat hulle in hul plaashuis in Zwartpan aangeval is. Eddie is die daaropvolgende Woensdag oorlede, nadat hy die Maandag in die Milpark-hospitaal in Johannesburg breindood verklaar is.

Die verhoor het vandeesmaand ná meer as twee jaar sedert die moord afgeskop.

Die beskuldigdes het hul betrokkenheid by die moorde erken, waarna die skuldigbevinding toe Donderdag gevolg het.

Die staat het tydens die verhoor aangevoer die beskuldigdes het die moord haarfyn beplan deur die dag by die plaashuis in te breek en die slagoffers in te wag.

Drie mense is aanvanklik ná die moord in hegtenis geneem, maar die derde verdagte, David Papi Mabai, het sy eie lewe ʼn dag ná die moord in die aanhoudingselle geneem.

Maroela Media het vroeër berig ʼn werker van die Hills-gesin het op 6 November omstreeks 05:00 op Pieter en Eddie in die plaashuis afgekom, nadat Pieter se vrou, Antoinette, haar gebel en gevra het om ondersoek in te stel. Sy was nie tuis ten tyde van die aanval nie en kon hulle nie in die hande kry nie, waarna sy die werker genader het.

Eddie het glo die rowers op heterdaad betrap toe hy by die plaashuis op Zwartpan aangekom het.

Die verdediging en aanklaer in die saak sal nou onderskeidelik vir versagting en verswaring van die vonnis pleit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eugene ·

Dit het Langer as 2 Jaar gevat om die moordenaars te vonnis. Dis pateties, en hulle gaan lekker lewe in die tronk. Daars alles. Bring doodstraf terug.

George ·

Ek stem, maar dink net aan daai doodstraf terug bring, wie dink jy gaan onder dit lei? Volgens die afrikaner, is die howe teen hulle, so wie gaan daar onder deurloop, dis al wat ek se.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.