Twee keer lewenslank vir transitorower

(Argieffoto: Unsplash)

’n 40-jarige man is vandeesweek in die Noord-Gautengse hooggeregshof swaar gestraf vir sy betrokkenheid by ’n transitoroof byna vier jaar gelede. Dít nadat sy enigste oorlewende medepligtige die dag vantevore onskuldig bevind is in verband met die misdaad.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, het in ’n verklaring gesê Stanford Manoko Diagoane is Vrydag skuldig bevind aan 15 aanklagte waaronder twee aanklagte van moord.

Volgens Mulamu is Diagoane twee lewenslange vonnisse opgelê vir die destydse moord op twee sekerheidswagte gedurende die betrokke transitoroof. Hy is ook ’n verdere 130 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, asook sameswering om roof te pleeg.

Diagoane is ook ongeskik verklaar om vuurwapens te besit.

Volgens Mulamu is Diagoane in Julie 2018 by ’n huis in Soshanguve, noord van Pretoria, in hegtenis geneem vir die besit van twee aanvalsgewere. Dié vuurwapens is destyds verbind met ’n transitoroof wat vroeër naby die Marikana-nedersetting op Soutpansweg plaasgevind het.

’n Transitovoertuig is gedurende dié voorval deur vier verdagtes voorgekeer waarna twee sekerheidsbeamptes noodlottig gewond is. Plofstof is gebruik om die kluis van die voertuig oop te blaas waarna die verdagtes met R641 000 op die vlug geslaan het.

Luidens die verklaring is die ander drie verdagtes ook destyds in Soshanguve in verband met die transitoroof in hegtenis geneem. Lizzy Lekgotoane (68), Quomane Letshoa (41) en Jabulani Mmamadi (36) is nes Diagoane van aanklagte tot moord en die besit van vuurwapens aangekla.

Letshoa en Mmamadi is later borgtog toegestaan waarna albei drie maande later gedurende twee onderskeie voorvalle dood is. “Letshoa is vergiftig en Mmamadi is doodgeskiet dae voordat hulle in dieselfde hof vir dieselfde saak moes verskyn.”

Volgens Mulamu het Diagoane en Lekgotoane sedertdien verskeie kere in ’n hof verskyn waarna Lekgotoane Donderdag onskuldig bevind en vrygelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Letshoa en Mmamadi is later borgtog toegestaan waarna albei drie maande later gedurende twee onderskeie voorvalle dood is. “Letshoa is vergiftig en Mmamadi is doodgeskiet dae voordat hulle in dieselfde hof vir dieselfde saak moes verskyn.” Die selfde sal gebeur met enige iemand wat hulle mond oop maak in die VBS saak. Philip Truter is a dead man walking. Hy is die enigste wat gese het hy gaan praat..

Leonard ·

Op heterdaad betrap, MAAR ONSKULDIG???
Laat my vrae vra….

Cherokee ·

Verduidelik die ‘op heterdaad betrap’ asseblief.
(Jy sien, jy is niè die enigste wat vrae vra.)

Cherokee ·

As jy vrae wil vra Leonard, moet jy ook op vrae antwoord.

Prikkie ·

En dan sê die grondwet hy het ‘n reg op lewe, daarom mag hy nie die doodstraf kry nie.

Maar die slagoffers het dan skynbaar nie ‘n reg op lewe gehad nie?

Scalla ·

4 jaar later, hoeveel tyd en geld spandeer, vonnisse dien nie as afskrikmiddel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.