Twee kinderporno-sake in PE-howe

hof-hamer

Argieffoto.

Twee sake wat met die verspreiding van kinderpornografie verband hou, sal Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof aangehoor word.

In die eerste saak word ʼn 44-jarige man daarvan beskuldig dat hy pornografiese materiaal van sy agtjarige tweelingdogters versprei het.

Die man van Lorraine in Port Elizabeth se naam mag nie genoem word nie om sodoende die identiteit van sy kinders te beskerm.

Hy staan tereg op drie aanklagte wat verband hou met die vervaardiging, verspreiding en besit van kinderpornografie. Volgens die klagstaat het hy naakfoto’s van sy dogters geneem en dit op die internet versprei. Daar is na bewering ook baba- en kinderpornografie op sy skootrekenaar gevind.

Die man is in November 2016 deur die SAPD se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe vasgetrek. Hy is tans uit op borgtog van R10 000.

In ʼn ander onverwante saak kom ʼn vrou (22) ook vandag in die Port Elizabeth-landdroshof voor op aanklag daarvan dat sy pornografiese foto’s van babas wat seksueel misbruik word, versprei het.

Die vrou van Westering is glo deel van ʼn internasionale sindikaat wat die foto’s versprei. ʼn Ondersoekspan in Johannesburg werk tans saam met die Amerikaanse FBI en die Belgiese polisie om die saak te ondersoek.

Die vrou staan tereg op aanklagte wat verband hou met die invoer, besit en verspreiding van films of publikasies wat uitbeeldings of beskrywings bevat wat kinderpornografie bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.