Die polisie in Mothothlung in Noordwes ondersoek drie klagte van moord nadat twee kinders moontlik deur hul oom vermoor is. Lede van die gemeenskap het die verdagte toe, skynbaar uit weerwraak, vermoor en aan die brand gesteek.
Volgens kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder van Noordwes, het die kinders, ʼn sesjarige meisie en haar vierjarige nefie, se oom hulle Woensdag teen 18:00 by hul huis gaan haal. “Toe die kinders nie terugkeer huis toe nie, het die ouers bekommerd geraak en hulle Donderdag net ná 01:00 as vermis aangemeld.”
Die polisie het deur die nag na die oom en die twee kinders gesoek. “Lede van die gemeenskap het die kinders se 31-jarige oom Donderdagoggend opgespoor en, sonder om die polisie daaroor in te lig, gevra dat hy hulle wys waar die kinders is. Hy het hulle toe gevat na bosse agter ʼn kerk in die omgewing, waar die kinders se liggame gekry is,” het Myburgh gesê. “Hul kele was met ʼn skerp voorwerp gesny.”
Lede van die gemeenskap het klaarblyklik besluit om die reg in eie hande te neem en het die verdagte doodgemaak en sy liggaam aan die brand gesteek.
“Die polisie ondersoek die saak. Teen Donderdagmiddag was die gebied weer kalm,” sê Myburgh.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
7 Kommentare
Wat jy saai sal jy maai.
Justice.
Nou ja, dis hoe dit gedoen moet word.
Wreed maar ja, die Regering vra daarvoor dat gemeenskappe reg in eiehande neem.
Nee kyk.. Boos. RIV kinders.