Twee kinders in PE doodgeskiet

Argieffoto

Die polisie in die Oos-Kaap doen ʼn beroep op lede van die gemeenskap in Bethelsdorp in Port Elizabeth om hulle by te staan met hul ondersoek na persone wat Vrydagaand twee kinders doodgeskiet en vyf ander persone beseer het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê twee persone het omstreeks 21:20 die deur van ʼn huis in Capuletstraat in Booysen’s Park oopgeskop. “Hulle was gewapen en het ʼn 26-jarige man genader. Hulle het ʼn goue ketting van sy nek gegryp en twee selfone gesteel. Die aanvallers het daarna op persone in die huis begin skiet.”

Deacon van Rooyen (16) en Ruaan Willemse (8) is doodgeskiet. Vyf ander persone, tussen 17 en 36 jaar oud, is ook geskiet. “Alle beseerdes is na ʼn hospitaal geneem,” het Naidu bygevoeg.

Die polisie ondersoek sake van moord, poging tot moord en gewapende roof.

Enigiemand met verdere inligting oor die voorval kan lt.kol. Mike Grobler kontak by 082 442 1825 of die Bethelsdorp-polisie by 041 404 3005. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sonder woorde :( ·

Ag nee! Wat op aarde kon daai 2 kinders doen om dit te verdien! Mense is so wreed teenoor kinders, dis verskriklik! Ek bid vir die ouers en familie deur die moeilike tyd!

Zettie ·

Ai dis baie hartseer. Maroela, kyk net na die sin “Alles beseerdes is na ‘n hospitaal geneem”. Iets klink nie lekker daar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.