Twee kinders sterf in ongelukke

Op die ongelukstoneel op die N7 in die Wes-Kaap. (Foto: Netcare 911)

Twee kinders, onderskeidelik twee en 12 jaar oud, het Saterdag in twee verskillende padongelukke gesterf.

Die eerste ongeluk het omstreeks 08:50 op die N7 net verby Malmesbury in die Wes-Kaap gebeur. Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê ʼn ligte voertuig en ’n ligte afleweringsvoertuig het op die pad gebots.

“Paramedici het ʼn tweejarige kind op die toneel ondersoek, maar die kind het geen tekens van lewe meer getoon nie. Die peuter is op die toneel dood verklaar,” sê Herbst.

Die tweejarige se ma het matige beserings in die ongeluk opgedoen, terwyl die kind se pa geringe beserings opgedoen het. Die ouerpaar is op die toneel behandel voordat hulle na ʼn hospitaal geneem is.

Die ongelukstoneel in die Durbanse sakesentrum. (Foto: Rescue Care)

Net na 12:00 is paramedici ook ontbied na ʼn ongelukstoneel in die Durbanse sakesentrum waar ʼn 12-jarige meisie deur ʼn motor getref het.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care-nooddienste, sê paramedici het by hul aankoms “totale chaos” aangetref. “Drie voertuie het gebots waarna een van die voertuie oor die sypaadjie geswenk en die jong meisie getref het,” sê hy.

“Die meisie is op die toneel ondersoek, maar sy het veelvuldige ernstige beserings opgedoen en daar was niks wat paramedici vir haar kon doen nie. Sy is dood verklaar.”

Volgens Jamieson is vier ander mense in die ongeluk beseer en op die toneel behandel voordat hulle na verskillende hospitale in Durban geneem is.

Albei ongelukke sal deur die owerhede ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Knersus ·

Was bestuurder op sy selfoon besig? Was hy nugter? Was hy dalk onder die invloed van verdowingsmiddels? Was hy dalk roekeloos ? Het hy n lisensie? Was daar beurtkrag en die robot het nie gewerk nie? Het hy by die spoedbeperking gebly? Is die motor padwaardig? Ongelooflik wat op ons paaie aangaan.

George in Bloem ·

Van die grootste redes dat SA van die hoogste moordsyfers en padsterftes in die wereld het vandat die ANC sirkus met sy legioen korrupte onbevoegde narre oorgeneem het is die totale disrespek wat die meerderheid mense het vir gesag. En dan boonop die afwesigheid van toerekensvatbaarheid vir mense se dade. Van skoolvlak af is daar geen meer behoorlike toepassing van dissipline/lyfstraf nie en kinders sien dat hulle met alles kan wegkom en dis ‘n onding wat saam met hulle gaan ba die grootmens wereld. Hulle sien hoe die “leiers” van vandag doen wat hulle nie moet doen nie en hoe hulle nie doen wat hulle moet nie en skotvry daarvan afkom en soms selfs opgehemel en bevorder word.Hulle sien hoe geld,korrupsie,nepotisme en omkopery alles kan “regmaak”. Hulle sien hoe sekere mense wat hard werk nie beloon word nie maar onbevoegde luigatte wel bloot as gevolg van velkleur en/politieke affiliasie.Hierdie wetteloosheid en die hartseer,tragedies en gemors wat dit veroorsaak is daagliks in koerante en sosiale media te sien. Die tragedie van Suid Afrika vandag is dat dit hierdie land op die ou einde totaal gaan vernietig omdat die patetiese spul in beheer wat die mag het om dit te verander,nie die politieke wil het nie want hulle sal steun verloor en daarin le die heel grootste tragedie van SA want dit beteken die chaos dra die goedkeuring weg van die meerderheid van die kiesers….

JohanL ·

George, baie dankie vir die stuk waarheid. ‘n Baie goeie holistiese analise wat ek saamstem die kern van al ons probleme is.

Pieter ·

Dit lyk of dit in die stuk is waar grootskaalse padwerke gedoen word. Iemand het nie mooi opgelet nie. Om 60 te ry is mos totaal teen die wet. Jammer dat die kinders die grootmense se skuld moes betaal.

Sê maar net ·

Jy’s heeltemal reg Pieter. Dit was in ‘n gedeelte waar 60km/h die spoed is. Padwerke. Ons het daar verby gery en die bakkie moes teen ‘n verskriklike spoed gery het om aan daardie kant van die pad…dis ‘n hele paar meter en teen ‘n helling, tot stilstand gekom het. Ons het weer gister terug gekom en daar verby gegaan. Voor die padwerke het ons die regte spoed gery en ‘n vrou het met ‘n geweldige spoed van agter amper in ons vasgery. Seker in die hoop dat ons in die geelstreep moet gaan. Ek weet nie wat die mense se probleem is dat hulle dink almal moet in die geelstreep spring as hulle oor die 120km/h wil ry nie. Sy’t verby gegaan en almal van die pad gedruk, so ver ons kon sien. Belaglik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.