Twee kinders verdwyn in see by Richardsbaai

Argieffoto (Foto: Piper60, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Piper60, Pixabay)

Twee kinders het Saterdag in die see by Richardsbaai in KwaZulu-Natal verdwyn en het vermoedelik verdrink.

“Die NSRI Richardsbaai was besig met see-oefeninge toe hulle omstreeks 14:00 na die toneel tussen Bay Hall en Pelicanstrand ontbied is,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê. “Die soektog na die twee kinders het begin. Paramedici van Netcare 911, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ʼn polisieduikeenheid het ook reageer.”

Lambinon het gesê ná ʼn omvattende soektog, was daar nog geen teken van die vermiste kinders nie. “Die polisie se duikeenheid het die soektog oorgeneem.”

“Die NSRI kon nog nie die ouderdom van die vermiste kinders bevestig nie en ook nie bevestig of dit seuns of dogters is nie, aangesien die polisie nog met die familie besig was en nog nie besonderhede beskikbaar gemaak het nie.”

Volgens Lambinon is die ambulansdiens ongeveer ʼn halfuur ná die voorval na die toneel ontbied en eers toe hulle op die toneel aankom, het hulle ontdek die kinders is nog in die water. “Hulle het daarna die NSRI vir bystand ontbied.”

Die omstandighede rondom die verdwyning van die kinders is nog nie bekend nie.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê volgens getuies het drie kinders in die see geswem toe twee onder die water verdwyn het. “Die derde kind het omstanders se aandag getrek en hulle het Netcare 911 na die toneel ontbied,” het hy gesê.

Botha het ook bevestig die soektog het teen laatmiddag nog nie enigiets opgelewer nie en paramedici het die toneel aan die polisie oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veritas ·

Iets in dié berig maak nie sin nie. Hoekom sou iemand die paramediese afdeling kontak wanneer die slagoffers nog nie gevind is nie? Die logiese stap sou wees om die SAPS of NSRI te kontak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.