Drie mense, onder wie twee kinders, is dood en sewe beseer in ’n botsing tussen ’n bakkie en ’n motor in Tweespruit in die Vrystaat.
Volgens ER24 het die botsing op die N8 by die Tweespruit-kruising plaasgevind. Paramedici van ER24 het omstreeks 11:50 op die toneel aangekom met paramedici van die provinsiale nooddienste wat reeds besig was om beseerdes te behandel.
’n Tienjarige meisie en ’n vierjarige seuntjie is op die toneel dood verklaar. ’n Vrou is in ’n kritieke toestand aangetref en is na ’n nabygeleë hospitaal gehaas vir verdere mediese behandeling. Sy is egter kort na haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Sewe mense, onder wie ’n vyfjarige seun, het ligte tot matige beserings opgedoen en is op die toneel behandel voor hulle na nabygeleë hospitale vervoer is vir verdere behandeling.
Die presiese omstandighede rakende die voorval word ondersoek.
Sterkte aan al die naasbestaandes betrokke.