Twee kleuters dood in motorwrak aangetref

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen nadat die liggame van twee seuntjies Maandagaand in ’n motorwrak in die Tzaneen-omgewing in Limpopo gevind is.

Die seuntjies, albei drie jaar oud, het vermoedelik in die motorwrak gespeel toe die motordeure gesluit het. Hulle is sodoende in die wrak vasgekeer en het weens die versengende hitte omgekom.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê die seuntjies het vermoedelik reeds Maandagoggend op pad na ’n kerk in die Maupa-nedersetting vermis geraak. Die ouers het egter eers die aand besef dat hul kinders vermis word waarna hulle saam met ander familielede na die seuntjies begin soek het.

Die soektog was egter tevergeefs en die kinders is by die Bellview-satellietpolisiekantoor as vermis aangemeld.

’n Gesamentlike soekgeselskap is gevolglik deur die plaaslike polisie en die polisie se honde-eenheid met behulp van gemeenskapslede van stapel gestuur.

Die seuntjies se liggame is eindelik omstreeks 20:30 op die agtersitplek van die motorwrak aangetref. Paramedici is na die toneel ontbied en albei kinders is dood verklaar.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het ’n beroep op ouers gedoen om hul kinders se veiligheid te verseker.

Maroela Media het verlede maand berig die soektog na ’n driejarige seuntjie en ’n vierjarige dogtertjie het ook hartseer geëindig toe die liggaam van die seuntjie in ’n ou motor in Newton in Wellington gekry is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Dit is baie hartseer.Snaaks dat sulke wrakke kinders se aandag trek.as kind het ons ook in wrakke op plase gespeel as ons daar gaan kuier het.Toe was dit nog chevies en fords en dodge’s.Ons het myle met daai ou karre gery.

Wondermaarnet ·

Presies en hull het seker lekker geëet en drink deur die dag en nie gedink hul kinders raak ook honger nie. Wag seker nou vir CR om ‘n grant goed te keur of ‘n huis te sponsor uit jammerte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.