Twee kleuters ernstig beseer in ongelukke

Die ongeluk naby Sky City waartydens ‘n 5-jarige beseer is. (Foto: Verskaf)

ʼn 5-jarige seuntjie is ernstig beseer toe die voertuig waarin hy en ʼn 31-jarige vrou gery het, op die R550 gerol het. Die ongeluk het Sondagoggend naby Sky City in Vereeniging, Gauteng, gebeur. Die vrou het matige beserings opgedoen.

“Paramedici het 11:09, saam met die Ekurhuleni‑brandweer, op die toneel aangekom. Die ligte voertuig het tussen 5 m en 10 m van die pad af gelê en die twee pasiënte was uit die voertuig geslinger,” het Ross Campbell, woordvoerder van ER24, Sondag gesê.

Die kleuter het ingrypende en gevorderde lewensondersteunende behandeling nodig gehad en is vir verdere behandeling per lugambulans na ʼn private hospitaal geneem. Campbell sê die vrou het matige beserings opgedoen en is op die toneel behandel voor sy vir verdere behandeling na die Thelle Mogoerane-streekshospitaal geneem is.

In ʼn ander voorval in Alberton, ook in Gauteng, is ʼn 6-jarige ernstig beseer toe hy en sy pa deur ʼn ligte motorvoertuig op die R554 getref is.

“Paramedici van ER24 was 14:40 op die toneel in Newmarket. Die seun het op die skouer van die pad gelê en het verskeie kritieke beserings opgedoen. Sy pa is nie beseer nie,” het Campbell gesê. Die seun is op die toneel gestabiliseer en toe ook per lugambulans na ʼn private hospitaal in Benoni gevlieg vir nood‑ mediese behandeling.

Die bestuurder van die voertuig is nie tydens die voorval beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.