Twee kontrakteurs in Majakaneng aangeval

'n Bus is tydens die betogings in Majakaneng, Noordwe, aan die brand gesteek (Februarie 2015) Foto: the_new_age, Twitter

‘n Bus is tydens die betogings in Majakaneng, Noordwe, aan die brand gesteek (Februarie 2015) Foto: the_new_age, Twitter

Twee kontrakteurs is in Majakaneng in Noordwes aangeval, het die provinsiale regering Sondag gesê.

“Die aanval het Saterdagaand plaasgevind, ure nadat premier Supra Mahumapelo die gebied besoek het,” het Bonolo Mohlakoana, waarnemende woordvoerder vir die provinsiale regering, gesê.

Die kontrakteurs is onlangs aangestel om seker te maak dat die watertoevoer in die gebied herstel word.

“Hierdie verwikkeling is teenstrydig met die vreedsamheid wat gister [Saterdag] in Majakaneng geheers het,” het Mahumapelo gesê. “Ons is dankbaar dat een van die verdagtes reeds in hegtenis geneem is.” Hy het die gemeenskap gemaan om die kontrakteurs toe te laat om hul werk te doen en die kriminele elemente te isoleer wat die lot van die gemeenskap vir eie gewin wil gebruik.

Mahumapelo het ook versoek dat nog wetstoepassers in die gebied ontplooi moet word om seker te maak dat daar streng veiligheid sal wees rondom persele waar watertoevoer geïnstalleer word.

Maroela Media het vroeër berig tegnici is Donderdag na Majakaneng gestuur om die waterprobleme in die gebied op te los na gewelddadige betogings waartydens inwoners water en elektrisiteit geëis het. Inwoners eis al jare lank water in die gebied. Een inwoner het verlede jaar tydens die betogings gesê die krane is al droog sedert 2005.

Toe die onrus verlede Maandag begin het, het betogers uitlanders se winkels geplunder, ʼn bus aan die brand gesteek en dele van die N4 versper. Sewe mense is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging.

Lees alle vorige berigte oor Majakaneng op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rina Pretorius ·

Al hierdie vandalisme moet net so bly, hulle het dit veroorsaak laat hulle dit uit hulle eie sal herstel of dit bly net so verwoes, waarvoor moet ons belasting betalers alewig alles regmaak nadat hulle dit opgefoeter het, hulle het geen waardes in die lewe nie laat hulle dan so sonder alles bly en klaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.