Twee ‘kopers’ steel glo motor by handelaar

Die gesteelde voertuig (Foto: Verskaf)

Twee mans wat hulle voorgehou het as potensiële kopers het na bewering Woensdagmiddag ʼn motor by die Auto Pedigree-motorhandelaar in Alberton in Gauteng gesteel.

Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), sê drie verdagtes het na bewering oomblikke voor die voorval buite die motorhandelaar in ʼn BMW-sedan gesit voordat twee van die verdagtes die winkel binnegegaan het.

“Terwyl ʼn verkoopsman ʼn voertuig aan ander klante gewys het, het die twee verdagtes in die motor gespring en van die toneel weggejaag,” sê hy.

Volgens Kgasago het die eienaar van die onderneming onmiddellik die opsporingsmaatskappy in kennis gestel van die voorval. Dié maatskappy het toe die polisie met koördinate voorsien van waar die motor is.

“Die polisie het die gesteelde voertuig kort daarna in Detotostraat in Edenpark gevind. Die verdagtes het reeds gevlug,” sê hy.

Volgens die polisie is die instrumentpaneel van die motor reeds uitmekaargehaal.

Forensiese deskundiges is na die toneel ontbied om ʼn verslag saam te stel om die polisie sodoende met leidrade te help. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

snoefie ·

as hulle klaarbegin het om die instrumentpaneel uitmekaar te haal in die str en toe op vkug geslaan het, dan klink dit of iemand by die motorhandelaar hulle laat weet het die polisie is oppad. viva bbbee!

poplap ·

Ai Ai Ai. Het die sales person nie geleer om versigtig te wees nie. Moet nooit ‘n sleutel in enige kar los nie. Moet nooit die sleutel vir ‘n klient gee voor jy self in die kar is en jou veiligheids gordel aan het nie. Ek kan net in dink. Die sales person het die kar gestart en die buite die kar met die ander kliente rustig gepraat. Terwyl die diewe van agter in die kar geglip het en weg gejaag het. In my opleiding het ons geleer. Veiligheid kom eerste. En vertrou niemand. Ongelukkig lyk diewe nie anders as gewoone mense nie. So jy moet altyd veiligheid eerste stel…..

Cor ·

Wees ook maar versigtig as jy die kar vir toets bestuur vat saam met voornemende koper. Jou werk gewer moet weet watter roete jy gaan ry en min of meer hoe lank jy gaan weg wees. Vat maar iemand saam. Hier by ons het hulle verkoops verteenwoordiger uit die kar gegooi en weg gery. In n ander geval is hy saam weg, die opsporings maatskappy het die voertuig in Vereeniging gekry en daar is deur SAPD op hulle geskiet die ou was amper bokveld toe.

Lientjie ·

Dis maar altyd ‘n baie groot risiko. Hulle het 3 maande terug by ons 3 bakkies van ons sypaadjie gevat met die verkoopspersoon saam met hulle. 2 terug gekry, maar een nog weg en gelukkig het hulle die verkoopspersoon ‘n end verder afgelaai. Die publiek daar buite verstaan GLAD NIE hoe ons voel oor ‘n toetsbestuur nie. Ons weet nie wanneeer jy by die verkeerde persoon in ‘n voertuig klim nie.

Verniet ·

Welkom by Suid Afrika waar als verniet is, Misdaadigers Meer regte het as n opregte eerlike mens en waar 1 persoon se se Tax vir n 100 ander voorsien

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.