Twee kort nog regshulp vir ma se moordsaak

Annetjie Stassen.

Annetjie Stassen.

Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Annetjie Stassen (78), wie se liggaam Sondag in ʼn veld gevind is nadat sy vroeër as vermis aangemeld is, het nog nie in die hof gepleit nie.

Kapt. Jethro Mtshali, woordvoerder van die Kempton Park-polisie, het Donderdag aan Maroela Media gesê Stassen se 43-jarige seun en dié se 31-jarige vriendin het Woensdag weer in die Kempton Park-streekhof verskyn.

Die twee het Maandag hul eerste verskyning in die hof gemaak en die saak is tot Woensdag uitgestel vir die twee om regsverteenwoordiging te kry. Hulle sou na verwagting toe gepleit het, maar die saak moes weer uitgestel word omdat hulle nog nie regsverteenwoordiging gekry het nie.

“Hulle moet weer op 2 Desember in die hof verskyn wanneer hulle na verwagting sal pleit. Hulle bly in aanhouding tot dan,” het Mtshali gesê. Mtshali het gesê die verdagtes se name sal eers bekend gemaak word sodra hulle gepleit het.

Maroela Media het vroeër berig Stassen se seun het glo sy werk as ingenieur bedank en sowat drie jaar gelede saam met sy 31-jarige vriendin in Stassen se huis ingetrek. Hulle al drie was hoofsaaklik afhanklik van Stassen se pensioen.

“Annetjie het nie ander kinders gehad nie. Sy was ontsettend lief vir hom en het haar deure vir hulle oopgemaak. Daar was wel soms drama en sy sou hierheen gevlug het as dit te rof gegaan het,” het Synthia van Aardt, ʼn jarelange vriendin van Stassen, Dinsdag aan Maroela Media gesê. Van Aardt het Stassen verlede week as vermis aangemeld nadat sy verlede Maandag vir die laaste keer van haar gehoor het.

Sy het verslae gesê sy weet nie wat onlangs in die huishouding gebeur het of wat tot die tragedie gelei het nie.

Mtshali het vroeër gesê die polisie het die ondersoek verlede Donderdag by Stassen se huis begin. Die seun het beweer dat hy nie weet waar sy ma is nie en dat hy haar verlede Woensdag vir die laaste keer gesien het toe ʼn motor haar kom oplaai het. Hy het egter nooit sy ma as vermis aangemeld nie. Stassen was ʼn diabeet en het nie haar medikasie by haar gehad nie.

Maroela Media het van ʼn betroubare bron verneem dat die paartjie glo erg bedwelmd voorgekom het toe hulle verlede Donderdag ondervra is.

Ná ʼn intensiewe ondersoek en ondervraging van die paar het hulle Vrydag onder druk geknak. Die vermistepersone-saak het ʼn moordsaak geword nadat hulle glo aan die polisie erken het hulle het haar doodgeslaan. Die seun en sy vriendin is dadelik in hegtenis geneem.

“Die verdagtes kon nie vir die polisie sê waar die vrou se liggaam gestort is nie en het gesê hulle kan nie onthou nie. Albei het gedurende aanhouding en ondervraging verskeie plekke genoem, waaronder ʼn dam in Mpumalanga, Marble Hall asook Bronkhorstspruit,” het Mtshali gesê.

Die deurbraak is Sondag gemaak toe ʼn groep vroue, wat ná ʼn kerkdiens teruggestap het huis toe, op haar liggaam in ʼn veld in Bronkhorstspruit afgekom het. Haar liggaam is deur haar vriende uitgeken.

Lees die vorige berigte oor Annetjie Stassen op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Martin ·

Hoe selfsugtig/arrogant kan mense wees? Regshulp – vir wat?

Ben ☺☺☺ ·

Daai knaap behoort nie haar biologiese seun te wees nie – laat weet `n bietjie.

Annette ·

Maak mens siek om te sien dat, die persoon wat jou groot gemaak en versorg het, met al haar liefde, so wreed moet gaan aan die hand van haar eie kind. Ek hoop hulle vrot in die trunk. Maar soos dit mos sal wees, sal hul die “demons” van dwelms blameer en vryskot daarvan af kom

Linda ·

Tannie Annatjie se oorlede man Gideon was my ma se neem. Hulle het net een seun(biologies) gehad wat sy pa se naam(stamnaam) gehad het.

Delta Mike ·

Hartseer om te dink daar gaan wragtig n regsadviseer of selfs n prokureer wees wat die gemors gaan verteenwoordig.

Delta Mike ·

Maroela, verduidelik bietjie vir my wat fout was met my kommentaar dat dit nie geplaas word nie, dit word nou n gereelde ding by julle. Daar is niks rassisties, diskriminerend of polities on-korrek soos julle nie daarvan hou in nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Delta

Let asseblief daarop dat kommentaar soms per hand goedgekeur moet word en dit neem soms ‘n wyle voor die kommentaar op die webwerf verskyn.
Jou kommentaar is nou goedgekeur.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Leeutjie ·

Jy vermoor jou MA! Genade…hoe groot moet jou demone wees om dit te doen!!! Oumense en kinders le vir my baie na aan die hart en ek sal sulke gedrag nooit verstaan nie!!

Onbekend ·

Dit is volgens die vorige berig haar eie seun. Dis nie net aanneem en stiefkinders wat hul ouers vermoor nie. Dis reeds jou eie kinders wat dit doen.

pop1 ·

Sodra die woord dwelms of drank in n hof geuiter word moet dit as verswarend opgeteken word. Dis alte veel n verskoning.

Dalene Marx ·

Gidoen was nie werkloos soos die berig hierbo aandui nie, hy het op 12 November 2015 sy bedanking by die Departement van Waterwese en Sanitasie kom indien. Hy is ‘n briljante ingenieur en was inbeheer van verskeie groot projekte. Dit is verskriklik jammer en baie hartseer wat gebeur het.

Christine ·

Ons het skuins oorkant julle gewoon en ek kan nog onthou die vreugde toe hy gebore is. Nooit
gedink dat daardie baba wat hulle so lank voor gewag het sy ma sal vermoor nie

Boet ·

Dit was haar seun n man wat onder ons dak geslaap het “SCARY” as ek nou daaraan dink wat hy met ons kon aanvang

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.