Twee kritiek beseer toe boot, jetski bots

Vaal Marina (Foto: Netcare 911)

ʼn 41-jarige vrou en ʼn 44-jarige man het Saterdag kritieke beserings opgedoen tydens ʼn botsing tussen ʼn jetski en ʼn boot by die Vaal Marina in Midvaal, Gauteng.

Die twee persone was albei op die boot, het Ross Campbell, woordvoerder van ER24, gesê.

“Paramedici het omstreeks 15:20 by die toneel opgedaag. Omstanders op ʼn ander boot het die pasiënte na die oewer gebring. Die vrou het ʼn kopbesering opgedoen en die man het veelvoudige beserings opgedoen.”

Albei persone het gevorderde lewensondersteuning benodig. Hulle is met ʼn helikopter na ʼn privaat hospitaal geneem, het Campbell bygevoeg.

Twee ander persone op die boot, ʼn jonger man en ʼn vrou, het geringe beserings opgedoen.

Die man op die jetski is nie beseer nie.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die man op die jetski het vermoedelik beheer verloor en toe met die boot gebots.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.